NewsNews

Groot sukses teen Vaaldam se skelm hengelaars

“Die misdadigers is beslis nie honger mense nie. Uit ondervinding het ons al gevind dit word georganiseer deur nyaope-dwelmbase wat dan die visverkope as kapitalisering vir hul dwelmbedryf en ander kriminele dade gebruik”

Wetsgehoorsame hengelaars, wat lankal wrewelig is oor ongure karakters wat duisende visse met nette in die Vaaldam vang, juig nadat ‘n vermeende sindikaat deur Bassopa Security & Tracking naby Oranjeville vasgetrek is. Ses verdagtes is aan die polisie oorhandig en in hegtenis geneem.

Volgens mnr. Joep Marais van Bassopa, lewer dié sekuriteitsmaatskappy ‘n uitgebreide diens aan die landbougemeenskap in die gebied. Die takke in Oranjeville en Deneysville was by die arrestasies betrokke. Bassopa-personeel in patrolliebakkies het die oggend van 24 Julie twee verdagte voertuie tussen Oranjeville en Deneysville opgemerk. Die agterste voertuig het duidelik nette en kano’s op gehad. By nadere ondersoek is honderde visse in die verdagtes se besit gevind.

Die ses verdagtes is weens die oortreding van natuurbewaringswette (Wet 8/1969 artikel 27-1) aangekla. Twee van die ses is onwettig in die land en is ook weens die oortreding van die Immigrasiewet – Wet 13/2002 artikel (1)(a) – aangekla. Marais sê hul sekuriteitsdiens, boere en die polisie het reeds meer as 3km se nette in die Oranjeville/Vaaldam-area gekonfiskeer. Die vang met nette kom hoofsaaklik in die Vaaldam tussen Heilbron, Oranjeville en Deneysville voor, maar daar word vermoed dat die oortreders hoofsaaklik uit die Vaaldriehoek kom.

“Die misdadigers is beslis nie honger mense nie. Uit ondervinding het ons al gevind dit word georganiseer deur nyaope-dwelmbase wat dan die visverkope as kapitalisering vir hul dwelmbedryf en ander kriminele dade gebruik,” sê Marais.

Die ses verdagtes is deur die Oranjeville-polisie in hegtenis geneem en aangehou. Die saak word verder ondersoek.

Honderde visse is op een slag deur die onwettige hengelaars met nette gevang.

Een van die bakkievragte met vis wat onwettig in die Vaaldam gevang is.

Related Articles

Back to top button