NewsNewsSportSport

Vegters word beloon

Vegters van die Fight Street XKT en MMA klub in Carletonville is Maandag vir hul harde werk beloon.

Lede van die klub het tydens ‘n funksie by die klub hul nuwe gordels ontvang nadat hulle onlangs gradeer het.
Die uitvoerende direkteur van die nasionale gevegkuns moederliggaam, MMASA (Mixed Martial Arts South Africa en die president van die grootste nasionale skopboks-liggaam, XKT (Xtreme Kickboxing Technologies), Shihan Raymond Philips, het ook die byeenkoms by die klub in Kaolinstraat bygewoon. Philips, wat self jare gelede in Carletonville geveg het, het ook die vegters oor die huidige stand van sake in dié sportsoorte toegespreek.
Philips, wat ook gemengde gevegskuns se Afrika-verteenwoordiger op die wêreldliggaam IMMAF (International Mixed Martial Arts Federation) is, sê die huidige Covid-19 pandemie het die sport baie beïnvloed.
“Dit breek ‘n mens se hart, maar mens kan in dié tyd niks waarborg nie omdat alles afhang van dít wat regerings aan ons voorskryf,” sê hy.
Hoewel daar drie groot skopbokskompetisies vir later die jaar gereël is, kon die nasionale jeugspan nie aan die Jeug Wêreldkampioenskap, wat van 30 Julie tot 1 Augustus in Turkye gehou is, gaan deelneem nie.
Philips sê hy besef ook dat dit ‘n beslommernis vir klubs is dat die komende kompetisies oor verskeie dae gehou word. Dit is egter belangrik dat daar so min as moontlik vegters op ‘n slag deelneem om die verspreiding van Covid-19 te keer.
Die Fight Street XKT en MMA klub se afrigter, Sensei Chimmy van Winkel, het Philips bedank vir die reëlings wat op nasionale vlak getref is sodat die sportsoorte wel die afgelope jaar tydens laer vlakke van inperking kon voortgaan.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button