NewsNews

Diere-fluisteraar van formaat

Daar is vier wolwe op die werf en 11 katte in die huis. Almal leef in vrede, want Belinda en haar diere verstaan mekaar.

Belinda Bras-Nel van Vanderbijlpark is ‘n diere fluisteraar. Sy het die gawe om enige dier te verstaan.

“Ek is van kleins af lief vir diere. Ons het op die kleinhoewes buite Vanderbijlpark gebly,” vertel Belinda op haar rustige manier.

“Ek sou ure in die natuur deurbring en na die miertjies kyk. Ek het ook met ‘n hoender op my skoot gesit en huiswerk doen. Die hoenders het vir my kalmte gebring.”

Belinda het die wilde katte op die kleinhoewe versorg. As student het sy haar beursgeld gebruik om die katte te laat steriliseer.

Belinda ontspan saam met Fen en Odin. Foto: verskaf

Na skool wou sy veearts word, maar daar was nie beurse beskikbaar nie. Sy het ‘n beurs vir elektroniese ingenieurswese gekry.

Haar groot liefde was steeds diere en dan het sy ook ‘n passie vir tale gehad. Sy wou skryf.

Die studiebeurs se verpligtinge was van so aard dat sy in die fabriek moes werk.

Die natuurkind het gesukkel om aan te pas in die grou grysheid van die fabriek en dit het haar gesondheid begin knou.

In die tyd het sy ook haar man Joop, ontmoet. Na hul troue het sy die groot besluit geneem om nie klaar te studeer nie.

“Vir amper 10 jaar het ek nie uitgegaan nie. Ek het nie eens bestuur nie.” Emosioneel het sy swaar getrek.

Sy het gewonder wat is die sin van haar lewe. Kort daarna het sy en haar twee jong kinders skarlakenkoors gekry.

Dit was terwyl sy ernstig siek was dat sy vir die eerste keer bewus geword het van die vier wesens by haar bed.

Belinda saam met Chindu, die wit tier. Foto: verskaf

Daarna het sy hulle gereeld gesien en met hulle begin kommunikeer. Stelselmatig het sy sterker geword in haar geloof en in haar kommunikasie met die engele.

Na ‘n tydskrif onderhoud is sy ook genooi vir ‘n radio onderhoud op RSG.

Daarna het sy 85 positiewe boodskappe ontvang, onder meer van die bekende skrywer, Riana Scheepers.

Belinda het ‘n skryfkursus met Riana se hulp voltooi en daarna het Riana vir haar gesê: “Nou begin jy om jou boek te skryf.”

Die aansporing het gewerk en My pad met Engele het die lig gesien. Vandag het sy al vyf boeke gepubliseer.

Soos Belinda sê: “As jy jou passie vind, dan kan jy enige iets doen.”

Een van die mense wat die grootste invloed op haar lewe gehad het, was haar pa. Hy is in 2014 oorlede.

Kort daarna het sy haar eerste wolf, Odin gekry. Daarna het sy Akaï ontvang en met die jare het Akita en Fen gevolg.

Belinda het die wolwe met bottels grootgemaak. “Ek het deur die jare al baie by die wolwe geleer en ook baie oor hulle geleer.”

Belinda het navorsing gedoen oor wolwe. Hulle is nie honde nie en tree ook nie soos honde op nie.

Baie mense dink hulle kan as waghonde aangehou word. Dis glad nie die geval nie.

Wolwe sal eerder wegkruip as om aan te val.

Haar wolwe het ‘n groot erf waar hulle rustig hul gang kan gaan.

Die wolwe het die opsie om in die huis te slaap, maar veral die ouer twee verkies om buite te slaap.

Naas die vier wolwe, het Belinda ook 11 katte wat almal in harmonie saamleef.

Belinda gaan help ook gereeld by ‘n sentrum in Rustenburg wat wilde diere red. “Ek hanteer alle diere met respek.”

So het sy al gehelp om leeuwelpies, ‘n tier en selfs ‘n hiëna te kalmeer en te rehabiliteer.

‘n Mens kan sien en aanvoel sy en haar wolwe verstaan mekaar.

Die twee jonger wolwe, Akita en Fen, verkies dit om op die bed te slaap. Foto: verskaf

Empatie en rustigheid teenoor mens en dier straal uit haar uit.

Soos sy sê: “As die lewe jou moeilike goed gee is dit nie om jou af te kraak nie, maar om jou sterker in jou lig te maak.”

Related Articles

Back to top button