EntertainmentNewsNews

Polisie stop byna Lianie se ‘Drive-in Country Show’ na aanklag

"Kom ons staan liewer saam, eerder as om mekaar by de Polisie aan te kla," vra eienaar Gert Janse van Rensburg

The Bar With No Name in Vaalpark, Sasolburg, is vinnig besig om wel ‘n naam te kry… as kuierplek wat innoverende planne uitdink om kos op hul personeel se tafels te hou en terselfdertyd voorslag-vermaak aan inwoners te bied.

Dié kuierplek in Minnaarstraat, Vaalpark, het verlede Saterdagnamiddag sy eerste “Country Drive-in Show” met die kunstenaars Lianie May en Ruan Jordaan gehou.

Dit is as ‘n Covid-veilige geleentheid bemark omdat toeskouers net vanuit die veiligheid van hul voertuie kon kyk en luister, en nie onderling met ander besoekers kon meng nie. Almal moes maskers saambring indien hulle dalk hul voertuie moes verlaat om die kleedkamers te besoek.

Toegang was gratis, maar besoekers moes betaal vir die piekniekmandjies vol heerlike happies uit The Bar With No Name se kombuis, wat hulle dan in hul eie voertuie kon geniet.Die geleentheid het egter nie sonder frustrasies verloop nie. Volgens Gert Janse van Rensburg, eienaar van The Bar With No Name, was hulle die middag nog besig om die klanktoerusting te toets toe die provinsiale polisie opdaag om die geleentheid te stop. Dit het mooipraat gekos en bewyse is gelewer van die veiligheid van die vertoning voordat dit kon voortgaan.

“So ‘n show en die huur van die klanktoerusting kos groot geld. Om die vertoning te stop sou ‘n groot verlies vir ons besigheid sowel as vir ons personeel beteken,” sê Gert.

Talle toeskouers het agterna op Facebook laat weet hoe baie hulle dit waardeer en geniet het om bietjie uit die huis te kom en ander mense te sien, al moes almal hul afstand in hul onderskeie voertuie handhaaf.Gert het agterna uitgevind dit was ‘n mededinger in die gasvryheidsbedryf wat The Bar With No Name se vertoning by die provinsiale owerhede aangegee het.

Vir dié persoon en ander eienaars van soortgelyke kuierplekke het hy ‘n spesiale boodskap: “In plaas daarvan om ons by die polisie aan te meld vir ons briljante idees, laat ons eerder saamstaan ​​gedurende hierdie uiters moeilike tye. Die doel van The Bar With No Name is om finansiële oorlewing van ons lojale personeel en die besigheid te verseker. Spandeer julle tyd goed deur jul eie idees te skep om jul eie oorlewing te verseker.

“My deur is altyd oop as jy idees wil oorweeg om jou onderneming en personeel te laat oorleef. Ons as eienaars van sulke ondernemings moet ‘buite die boks dink’. Ek is bereid om die ekstra myl vir my personeel te loop!”

Gert sê hy het nog heelwat planne om seker te maak hul gaste gaan in die komende maande steeds hope Covid-veilige pret hier beleef.

 

Lianie May in aksie tydens die Drive-in Country Show wat Saterdag by Bar With No Name gehou is.
Toeskouers het hul gate uit geniet. Foto’s: Spectacular Photography

Polisie stop byna Lianie se ‘Drive-in Country Show’ na aanklag | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button