NewsNews

Ouers vra hulp vir rolstoel vir serebraal gestremde seuntjie

Die ouers van ‘n vierjarige serebraal gestremde seuntjie wat aan ‘n seldsame mediese toestand genaamd X-gekoppelde agammaglobulinemia ly, doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help om ‘n spesiale rolstoel vir hom aan te skaf.

SASOLBURG. – Klein Marnus Swart is by ‘n staatshospitaal op die lys gesit en wag volgens sy ma, Christa Swart, al meer as twee jaar vir ‘n rolstoel.

“Hy het tans ‘n groot behoefte aan ‘n gespesialiseerde rolstoel vir serebraal gestremde kinders,” vertel sy.

Die rolstoel sal Marnus se mobiliteit verbeter maar kos volgens Christa in die omgewing van R12 800. Dit is heelwat meer as ‘n gewone rolstoel.

Volgens Christa is haar seun nie geskik vir ‘n gewone rolstoel nie.

“Die spesiale rolstoel het kussinkies en ondersteuning. Dit sal ook help om Marnus se ruggie regop te hou,” verduidelik sy.

Sy sê enige donasies sal waardeer word.

Marnus benodig ‘n spesiale rolstoel. Foto: Verskaf

Marnus is op 4 Desember 2016 gebore en het volgens sy ma op die ouderdom van ses maande gereeld met sy gesondheid gesukkel.

“Hy het meer siek geword as wat normaal beskou word en het keer op keer brongitis, longontsteking, verkoue en griep gekry.

“Hy was by verskeie dokters en is ook ‘n paar keer in die hospitaal opgeneem, maar in daardie stadium het niemand geweet wat hom so siek maak nie.”

Volgens Christa is hulle wêreld ‘n paar maande later tot stilstand geruk toe Marnus op die ouderdom van 18 maande ernstig siek geword het.

“Hy is in die hospitaal in Sasolburg opgeneem en is toe feitlik onmiddellik na die Boitumelo-distrikshospitaal in Kroonstad oorgeplaas,” vertel sy.

Hier het Marnus in ‘n koma ingegaan.

Marnus Swart. Foto: Verskaf

“Daar is bepaal dat hy breinvliesontsteking opgedoen het. Hy is ‘n paar uur later na die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas waar daar gespook is om sy lewe te red.

“In Bloemfontein het almal gejaag en probeer om sy lewe te red. Hy moes ‘n breinoperasie ondergaan om die drukking te verlig en daarna was hy in die intensiewesorgeenheid waar hy vir langer as ‘n week vir sy lewe geveg het,” vertel sy ma.

Dit is in Bloemfontein waar verdere toetse op Marnus gedoen is en daar vasgestel is dat hy aan agammaglobulinemia ly.

Die seldsame toestand affekteer die liggaam se vermoë om infeksies te beveg en verswak sy immuunstelsel.
Dit sou beteken dat Marnus sy lewe lank maandeliks teenliggaampies moet ontvang om sy liggaam te help om hom teen virusse en kieme te veg.

Hy ontvang ook behandeling wat deur die staat voorsien word, soos fisioterapie en arbeids- en spraakterapie, en moet elke drie tot ses maande vir opvolg ondersoeke Bloemfontein toe gaan.

Volgens sy ma vorder hy goed en kan hy al enkele woordjies sê.

“Sy handjies beweeg en hy kan ook rondrol en sy bottel vashou,” vertel sy.

“Marnus het ons van deursettingsvermoë, geloof en vertroue geleer, al lyk dinge hoe donker.”

Ouers vra hulp vir rolstoel vir serebraal gestremde seuntjie | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button