NewsNews

Onderrig-probleme: Ontsluit só die genie in jou kind

Die Covid-inperkings het Suid-Afrika se skole-onderrig sedert 2020 op sy kop gekeer.

Hoewel skoolhoofde en hul personeel harder as ooit werk om ‘n hoë akademiese peil te handhaaf, is dit onvermydelik dat baie leerders se akademiese prestasies gaan skade ly. Die druk op ouers word al groter om hul kinders se akademiese waens deur die drif te help trek.
‘n Uiters waardevolle boek, Ontsluit die genie in jou!, het pas die lig gesien en gaan besorgde ouers en leerders help om weer lig in dié donker tyd te sien.
Ontsluit die genie in jou! is die mees omvattende, pasgemaakte boek waarmee die akademiese uitdagings van hierdie spesifieke tyd oorkom kan word. Indien die aanwysings aktief benut word, kan dit elke leerder omskep tot die beste weergawe van sy unieke menswees en ‘n bevredigende leerervaring bewerkstellig.
Die skrywer, dr. Ester de Waal, gesels gemaklik met leerders oor hul breinvoorkeure en leerstyle, die suksesvolle bestuur van hul leerervaring, strategieë om geheue en konsentrasie te verbeter, die benadering van huiswerk, take en assesserings, asook die oorkoming van die struikelblokke wat effektiewe leer in die wiele ry.
Dr. De Waal is ‘n bekende in akademiese kringe nadat sy vir meer as 20 jaar betrokke was by die opleiding van onderwysers aan die Noordwes-Universiteit, en bydraes oor verskeie opvoedkundige onderwerpe in talle boeke en handboeke gelewer het. Sy is ook ‘n geregistreerde Heelbreinpraktisyn, wat in die hantering van die opvoedkundige behoeftes van individuele leerders gespesialiseer het. Baie inwoners van die Vaaldriehoek het dr. De Waal ook leer ken as uitvoerende hoof van die kleuterskole Tjokkerland 1 en 2, sowel as van die privaatskool Vesco Akademie in Vanderbijlpark.
Sy sê haar ervaring is dat gene, voeding en studiemetodes help, maar ware groei en ontwikkeling eers plaasvind wanneer ‘n leerder bewus word van sy of haar vermoëns deur die terugvoer op aktiwiteite en denkpatrone.
“Akademiese sukses word eers ‘n werklikheid wanneer jou drome en deursettingsvermoë groter as jou verskonings raak,” sê sy. Die boek word uitgegee deur Susan Lucouw van Corals Publishers, wat ook sterk ankers in die Vaaldriehoek het. Susan het ‘n MA-graad en ‘n nagraadse onderwysdiploma en het dekades se onderrigervaring agter haar naam. Sy het ook bykomende opleiding in neurokinestika ontvang. Sy het in 1980 begin skoolhou, onderwysers by die NWU help oplei, en is sedert 2004 die uitgewer van Corals Publishers. Vanaf 1995 het sy jaarliks doelgerigte leerprogramme by Hoërskool Suiderlig met die graad 8’s geïmplementeer en die resultate kon duidelik gesien word deurdat die skool vir baie jare agtereenvolgens geen graad 12-druipelinge gehad het nie. Sedert 2013 tot 2019 het sy dieselfde program ook by Hoërskool Transvalia aangebied en is gevra om haar kennis en vaardighede te boek te stel toe sy einde 2019 na Jacobsbaai verhuis het.
“Potensiaalontwikkeling was nog altyd my passie. Daar is geen beter gevoel as om die lig van begrip in ‘n leerder se oë te sien aangaan en te sien hoe hy of sy dan ontluik nie,” sê Susan.
Die belangstelling in Ontsluit die genie in jou! is tans oorweldigend en die Engelse weergawe sal binnekort ook beskikbaar wees.
* Ontsluit die genie in jou! kos R180 en is beskikbaar by Protea Boekwinkels of direk by corals@worldonline.co.za.

Related Articles

Back to top button