NewsNews

Boere Droogtehulp help plaaslike boere

‘n Groep boere in die Fochville-omgewing het verlede Vrydag baie hulp ontvang nadat brande ‘n paar weke gelede hul eiendom vernietig het.

Altesaam 16 dubbel-sleepwa vragmotors met ongeveer 268 ton voer het dié oggend op die plase tussen Fochville en Potchefstroom gestop.
Elf plase, waarvan nege heeltemal afgebrand het, is tydens die aksie gehelp. Behalwe vir skenkers en verteenwoordigers van die nie-winsgewende maatskappy Boere Droogtehulp SA het die sanger Appel, (gebore Christoph Kotzé), ook met die dag se verrigtinge kom help.
Volgens Chris van Beljon, die stigter en hoof uitvoerende beampte van Boere Droogtehulp SA het die sanger self ‘n groot rol gespeel om die hulp te laat gebeur.
“Een van die boere se seuns het vir Appel gekontak en hy het my gebel en gevra of ons kan help en só het die dinge bymekaar gekom,” het Van Beljon aan die Herald vertel.
Volgens hom kom die meeste van die voer wat uitgedeel is, uit die Sasolburg-omgewing. Boere van die Ventersdorp-omgewing sowel as van elders in Noordwes en Gauteng het ook skenkings gemaak.
Dit was egter nie net voer wat uitgegee is nie, omdat die boere ook ander hulp nodig gehad het.
“Ons het tot vandag broodroosters en ketels afgelaai,” het Van Beljon gesê. Volgens hom is die organisasie tans besig om baie ander boere in die land te help.
“Ons lewer weekliks af, meestal in droogtegeteisterde areas in die Noord- en Oos-Kaap. Ons gaan egter dié maand ook nog in ander areas van Gauteng help wat onlangs gebrand het,” sê hy.
Boere Droogtehulp help ook plaaswerkers en mense wat hul werk weens die inperking verloor het. Van Beljon sê die organisasie sal met hul aksies voortgaan, al word skenkings minder, omdat daar elke vierde dag ‘n plaas verlore gaan weens gebeure soos droogte, brande, plaasaanvalle en die onsekerheid of dit wel die moeite werd is om aan te hou boer.
Enige leser wat die organisasie wil ondersteun, kan hul webblad by www.boeredroogtehulpsa.org of hul Facebook-blad by Boere Droogtehulp SA NPC besoek om meer inligting te kry.

Die sanger Appel en Chris van Beljon van Boere Droogtehulp tydens die skenking..

Related Articles

Back to top button