EntertainmentNewsNews

Van Reg en Rede vat vlug met debuutalbum

“Vat Vlug” vat die luisteraar op ‘n reis na self-ontdekking en wat dit beteken om seer te kry maar ook weer heel te word.

Die Potchefstroom rock band, Van Reg & Rede, onderneem ‘n musikale reis in hulle eerste vollengte album, Vind Koers wat verlede Vrydag, 25 Junie, amptelik vrygestel is.

Van Reg & Rede het na ‘n proses van drie jaar iets vars en nuut op die plaaslike Afrikaanse rock landskap uitgebring. Christo du Plessis (sang), Gustav Lutz (kitaar), Chris Boshoff (baskitaar) en Erick Fourie (dromme) vorm ‘n gedugte span en ‘n mens kan vanuit die staanspoor hoor dat elke lid sy unieke musiektalent op die voorgrond bring.

Identiteit, die soeke na waarheid, en hoe om mens te wees, is maar van die temas wat die album deur middel van verskillende klanke en style op ‘n verfrissende wyse uitbeeld.

“Soos hoe identiteit vind verskillende elemente het, het ons doelbewus die album divers gemaak. Dit verteenwoordig ook elke lid se verskillende musieksmaak van indie tot akoesties tot harde alternatief wat alles saamgegooi word,” vertel hoofsanger, Christo du Plessis.

Van Reg & Rede saam met Johan Viljoen, wat die produksie van die album gedoen het.

Volgens Du Plessis was Tjaart van der Walt en Johan Viljoen twee mense wat vir Van Reg & Rede gedruk het om beter musikante te word tydens die skryf en opneemproses van die album.

“Die album het begin met ons eerste twee enkelsnitte by Tjaart van der Walt en is in Potchefstroom by Die Stam deur Johan Viljoen voltooi. Die lekkerste was dat ons regtig ons tyd kon vat om ‘n album uit te sit waarop ons 40 jaar later trots sou wees. Die moeilikste aspekte was om te werk, te spaar en odd jobs as studente te doen vir ‘n album. Dit was wel 100000 persent die moeite werd om ons beste produk uit te sit,” meen Du Plessis.

Van Reg & Rede se nuwe album “Vind Koers”

Die omslag van Vind Koers beeld ‘n vliegtuigvenster uit met ‘n uitsig oor die wolke – en dit pas perfek by die eerste lied “Vat Vlug” wat met melodiese kitaarklanke en introspektiewe lirieke op die voorgrond tree: “Weet dis maklik om op te gee, weet dis moeilik om alles weer te leer, soms maak die waarheid seer, soms bring die toekoms vrees,” sing hoofsanger, Christo du Plessis in hierdie lied wat oor vergifnis, onsekerheid sowel as die soeke na iets beter in ‘n mens se lewe gaan.

“Vat Vlug” vat die luisteraar op ‘n reis na self-ontdekking en wat dit beteken om seer te kry maar ook weer heel te word.

Van Reg & Rede het hulle debuutalbum “Vind Koers” verlede week uitgereik. Hierdie Potchefstroomse groep bestaan uit Gustav Lutz, Christo du Plessis, Chris Boshoff en Erick Fourie. Foto: Verskaf

Erick Fourie se werk op die dromme om “Vat Vlug” te bou en interessant te hou, sowel as die baslyne van Boshoff en kitaarwerk van Lutz is iets wat erkenning moet kry. ‘n Sterk eerste snit is altyd nodig om ‘n album af te skop en “Vat Vlug” kry dit beslis reg.

Van Reg & Rede

“De Wet Straat” begin met ‘n melodiese kitaarstuk van Lutz wat dan verder ontvou deur die res van die liedjie. Die klankkwaliteit hier is iets wat ‘n mens dadelik tref met die mengsel van skoon en meer aggressiewe klanke wat goed in wisselwerking saamsmelt. “Wag saam met my jy sal nog jou kans kry. Ek weet jy voel soms so klein, maar hou net vas aan my,” sing Du Plessis in die koor, voordat die strelende kitaar van Lutz en tom gebaseerde dromme van Fourie opbou tot ‘n hoendervleis-lekker kitaarsolo.

Definitief een van die beste snitte op die album. “Bos Blomme” maak ’n behoorlike 180 grade draai in terme van musiekstyle met ‘n indie-Afro tipe styl wat ‘n mens sal wil laat dans. Dit is ‘n lekker nommer met ‘n bietjie mondfluitjie ook by om karakter aan die snit te gee. “Intermissie” is ‘n sagte akoestiese kort snit met die kaptein van die vliegtuig wat noem dat die luisteraars in ‘n storm inbeweeg.

Wat volg is die spreekwoordelike tweede deel van die album wat met “Rigtingloos” begin.

“Rigtingloos” is ‘n opgewekte rock en roll nommer wat op Lutz se kitaarmelodie as fondasie steun sowel as briljante lirieke van Du Plessis wat die lied ekstra volume gee: “Rigtingloos wandel ek voort, sê my waar ek hoort, want ek is moeg vir oorbegin.” Die lied beeld ‘n mens in sy moeilikste situasies uit en hoe daar ‘n gedurige soeke na die regte rigting is – soms is dit moeilik as die paaie van die lewe jou al in doodloopstrate gelei het.

“Teveel” is ‘n stadiger lied wat ook een van die top snitte op hierdie album is. Dit vloei goed van begin tot einde en bou op na ‘n crescendo en top kitaarsolo. Du Plessis sing ook die lirieke vol emosie: “Ek het boeke vol briewe vir jou geskryf Jou naam die begin van elke refrein Teveel is nie teveel vir My nie.”

Hierdie was ook een van Van Reg & Rede se enkelsnitte wat verlede jaar uitgereik is. “Hoogtevrees” voer die akoestiese element verder en het ‘n groot geestelike element. Dit tref die hartsnare met uitstekende lirieke wat enige iemand sal kan verstaan en by aanklank vind.

“Soms wil ek net wegdraai, o ek weet ek is op pad maar ek is regtig so bang om te val.” “Vegter” het weer ‘n harder en blinker aanslag met van die beste instrumentele werk op die album tussen al vier musikante. Boshoff se basnote, tesame met ritmekitaar en ‘n kitaarsolo van Lutz en Fourie se werk op die hi-hats maak hierdie minuut se ononderbroke spel ‘n fees vir die ore.

“Vir Haar” begin met sagte akoestiese spel en is ‘n tipiese romantiese ballade – “gebruik vir my as jou instrument en speel vir haar ‘n liefdeslied. Wys vir my hoe om haar lief te hê sodat ek kan wees wat sy nodig het.” “Koers” eindig die album af met ‘n stadige nommer wat weer eens die musikale talente van Van Reg & Rede uitwys.

Die verskeidenheid op hierdie album is definitief een van die sterkpunte en hierdie groep talentvolle Potchefstromers kan beslis trots wees op Vind Koers. Afrikaanse rock musiek is in goeie hande met ‘n nuwe generasie wat paaie oopmaak en skep.

https://potchefstroomherald.co.za/89417/van-reg-en-rede-vat-vlug-met-debuutalbum/

Related Articles

Back to top button