NewsNewsSportSport

Kort en kragtig na top 300 in die wêreld

Suzanie Pretorius is 'n tennisspeler om dop te hou.

Die NWU/Riaan Venter Tennisakademie (RVTA) is nog altyd bekend dat hulle jong tennistalent in diamante slyp. Die nuutste voorbeeld hiervan is die 17-jarige Suzanie Pretorius, wat die afgelope jaar drie internasionale toernooie gewen het en van 1 000ste in die wêreld na nommer 315 in die wêreld geskuif het.

Hierdie meteoriese skuif is danksy harde doelgerigte werk op die tennisbaan waar sy die afgelope ses maande as ‘n voltydse speler by die Riaan Venter Tennisakademie aangesluit het. Haar afrigter, Riaan Venter, is vol lof vir haar vordering sedert die begin van 2021 waar daar aan sekere aspekte van haar spel gewerk en sterkpunte uitgelig is.

“Suzanie is ‘n speler wat die bal ontsettend hard slaan en omdat sy kort is het sy ook ‘n baie goeie centre of gravity. Dit tel tot haar voordeel. Ons het aan haar dien gewerk sodat dit by haar hoogte pas. Ek het ook gefokus om haar spel meer aanvallend te maak sodat sy nie vir die bal wag nie, maar die bal aanval met haar houe,” vertel Venter.

Suzanie Pretorius hou haar oog op die bal tydens een van haar daaglikse oefensessies. Foto’s: Wouter Pienaar

Pretorius is eens dat haar goeie spel grootliks met haar verbeterde kondisionering en fiksheid sowel as ‘n aggressiewer aanslag te doen het. Sy het vanjaar ‘n 85 persent wengemiddeld en het nog net vier wedstryde verloor en 23 gewen.

“Ek sit baie meer ure in en voel dan by toernooie dat ek beslis die werk ingesit het,” vertel Pretorius. Haar liefde vir tennis het op ‘n jong ouderdom begin danksy haar ouer boetie wat tennis gespeel het.

“As ‘n jonger sussie wou ek altyd saamgaan as my boetie oefen. Ek het op 7 jaar al my eerste toernooi gespeel,” noem sy.

Pretorius het vanjaar ook ‘n groot deurbraak gemaak toe sy aan die Ilana Kloss ITF-toernooi deelgeneem het en teen top tennisspelers kompeterend was. Sodoende het haar selfvertroue gebou en volg sy dit op met drie junior ITF graad 4 toernooi oorwinnings, twee in Pretoria en een in Zimbabwe. 

Volgende vir Pretorius is ‘n toernooi in Tunisië, wat goeie voorbereiding sal wees vir Junior Grand Slam-toernooie in die toekoms. “Die doelwit vir my is om by die groot toernooi (vlak 2 en vlak 1) in te kom.

Ek fokus op my sterk punte en weet dat ek onder druk van my beste tennis speel,” beaam dié tennisspeler wat oorspronklik van Bothaville afkomstig is. Om van so klein dorpie af nou die geleenthede het om rond te reis en die wêreld te kan sien is iets wat sy nie ligtelik opneem nie.

Suzanie Pretorius is tans een van Riaan Venter se top tennisspelers.

“Dit is ‘n groot voorreg om die geleentheid te kan hê om voltyds tennis te kan speel. Ek sien regtig uit na die groter toernooie wat op pad is.”

Hierdie jong tennisspeler is ook vol lof vir haar afrigter en die rol wat hy tot dusver in haar loopbaan speel. Saam maak hulle ‘n gedugte span wat nog groot hoogtes wil bereik.

Hy (Riaan Venter) glo elke sekonde in my en hy help my om positief te bly. Hy is baie ondersteunend.”

https://potchefstroomherald.co.za/89475/kort-en-kragtig-na-top-300-in-die-wereld/?fbclid=IwAR23Z56Xb8C90-3w_Qth7xHG4ewc_q-hjY032lnMWpBdUD1dH7qCjfrYpVg

 

Related Articles

Back to top button