NewsNews

Geliefde streeksbestuurder groet

Geliefde SAVF streeksbestuurder groet

Die SAVF se geliefde streeksbestuurder, me. Suzette Oosthuizen, het dié week van die organisasie afskeid geneem.
Oosthuizen het vir bykans 21 jaar by die SAVF op Carletonville gewerk, eers net as maatskaplike werker en later as streeksbestuurder. Haar uitbundige lag en positiewe lewensuitkyk het in dié tyd baie inwoners wat aan geestelike of finansiële behoefte ly, se lewens verander.
Haar loopbaan as maatskaplike werker in Carletonville het egter reeds in 1997 by NG Welsyn begin.
‘n Spesiale afskeid is verlede Vrydag vir haar in die saal by Wonderfontein Stalle gehou.
Werknemers en vrywilligers van die strukture wat onder haar bestuur gestaan het, sowel as verteenwoordigers van ander instellings met wie sy gereëld saamgewerk het, soos die polisie, howe en sakelui, het die byeenkoms bygewoon.
Groepe of afgevaardigdes van Reënboog Kleuterskool by Greenspark, Die Carletonville Deurgangshuis, Pikkieland Kleuterskool, die Lappop Kleuterskool, die Neo Dagsorgsentrum in Khutsong, die Fochville Aftree-oord, die Jubileum Dagsorgsentrum in Krugersdorp, Legae/Ikhaya groep vir bejaardes in Khutsong, Senatus en die maatskaplike werkkantoor in Carletonville het met spesiale opvoerings of woorde aangedui wat Oosthuizen vir hulle beteken het.
“My wens is dat die seerkry van die lewe nooit julle vreugde moet steel nie, want dan word julle magteloos,” was Oosthuizen se wens vir inwoners. Sy het ook baie mense in die gemeenskap bedank vir hul hulp deur die jare.
Hoewel Oosthuizen op 30 Junie haar werk by die SAVF afgesluit het, is sy egter nie verlore vir ons omgewing nie aangesien sy nou ‘n loopbaan by Solidariteit Helpende Hand begin wat beteken dat ons omgewing steeds onder die gebied waarvoor sy verantwoordelik is, gaan val.

Related Articles

Back to top button