NewsNews

Swart belt student en buurman trek inbreker vas

Almaro de Villiers, wat ‘n 3rde Dan (swartbelt) is, het al sy kennis gebruik om nie nog ‘n misdaadslagoffer te word nie. Met die hulp van sy buurman, Du Preez Theron kon hulle die skelm vastrek.

‘n Swart belt karate-student het al sy ervaring en instink gebruik om ‘n inbreker in sy woonstel te laat les opsê. Almaro de Villiers (23), ‘n NWU BSc ingenieurswese-student en lid van die NWU Karateklub, moes Vrydagaand (25 Junie) vinnig dink toe hy onverwags ‘n inbreker in sy woonstel teekom.

Almaro de Villiers (regs) het sy 18 jaar karatekennis goed gebruik om ‘n skelm wat sy woonstel betree het te laat les opsê. Du Preez Theron (links) het die skelm help grond toe bring en ‘n paar houe uitgedeel terwyl Almaro ‘n wurggreep gebruik het die skelm vas te trek. Foto: Wouter Pienaar

Danksy ‘n aggressiewe aanslag kon hy met behulp van sy buurman, Du Preez Theron (19), die verdagte binne tien minute vastrek voordat CB Sekuriteit opgedaag het.

Almaro de Villiers het 18 jaar se karate-ervaring agter sy rug. Onder Sensei Johan van Tonder het hy die afgelope paar jaar uitgeblink in Potchefstroom. 

Almaro noem dat die voorval omstreeks 22:00 die aand plaasgevind het toe hy in die agterkant van die woonstel met ‘n praktiese ingenieurswese-taak besig was.

“Ek het die voordeur hoor oopgaan toe weet ek iets is aan die broei. Ek het na die sitkamer beweeg en toe sien ek die man in die sitkamer staan. Ek het vir hom gesê, “Jy is nie welkom hier nie jy moet uitgaan,” onthou Almaro.

“Die man het genoem dat hy ‘n familielid soek, maar ek het hom weer gevra om te loop. Ek kon ook sien hy hou iets agter sy rug. Hy het toe die voordeur met sy regterhand toegemaak en vir ‘n splitsekonde na die handvatsel gekyk. Ek het toe geweet dat dit my kans is terwyl hy nie vir my kyk nie.”

Almaro de Villiers se woonstel nadat hy en die skelm in ‘n geveg betrokke geraak het. Foto: Verskaf

Almaro en die inbreker het toe ‘n geveg begin, met Almaro wat die skelm se linkerhand vasgegryp het tydens die woeste bakleiery. Volgens hom wou die inbrekers heeltyd na iets gryp. In die chaos het Almaro om hulp geskree en dit is toe Du Preez kom hand bysit, ‘n paar houe uitdeel en die man tot buite die huis dwing.

Die wapens wat die skelm by hom gehad het. Foto: Verskaf

“Buite het ek ‘n wurggreep op hom geplaas. Ons het toe die wapen, wat ‘n skroewedraaier was, verwyder en ook ‘n moersleutel by die man gekry. Ek is dankbaar dat Du Preez opgedaag het om my te help,” noem Almaro.

In die geveg is meubels beskadig, met Almaro wat net ‘n paar kneusplekke opgedoen het. Die inbreker het veel slegter met ‘n gebreekte neus en nog ‘n paar ander beserings opgeëindig.

Die voordeur waar die skelm ingekom het.

Hierdie karateka wat ‘n 3rde Dan (swartbelt) is, het al sy kennis gebruik om nie nog ‘n misdaadslagoffer te word nie. Hy glo vas dat sy karate opleiding grootliks tot sy vinnige optrede gelei het.

Almaro de Villiers (regs) het sy swart belt in karate goed gebruik om ‘n skelm uit sy woonstel te dryf en hier op die oprit vas te trek. Sy buurman, Du Preez Theron (links) het kom hand bysit en saam het hulle die skelm se poging gefnuik.

“Karate leer ‘n mens dat as jy ‘n geleentheid kry dan moet jy aanval. Die belangrikste vir my was om die gevaar te elimineer, daarom het ek die skelm se hand gegryp sodat hy nie die skroewedraaier kon gebruik nie. Ek wou ook nie teruggaan na my kamer toe om die paniekknoppie te gaan druk nie, omdat ek dan my rug sou draai,” meen Almaro.

“Ek het natuurlik geskrik en die adrenalien het gevloei maar ek het my instink gebruik en aangeval so ek is bly ek kon die skelm vang en keer dat hy nie ander mense ook besteel nie.”

https://potchefstroomherald.co.za/89428/swart-belt-student-en-buurman-trek-inbreker-vas/

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button