NewsNews

Privaat kragopwekking kry groen lig

Solidariteit verwelkom president Ramaphosa se onlangse aankondiging dat privaat mense en instellings voortaan tot 100 MW vir eie gebruik sonder ’n lisensie mag opwek. Hulle is ook verheug dat die lisensiëringsproses vir sulke opwekking geskrap word.

Mediaverklaring: Solidariteit

“Die desentralisering en privatisering van opwekking is ’n reusestap in die regte rigting wat Suid-Afrika se energieprobleme kan oplos. Kleinskaalkragopwekking is ’n sektor wat ongelooflike werkskeppingspotensiaal het; nie net in die sektor self nie, maar ook in die breër ekonomie,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

“Dit is van kritieke belangrik dat die registrasieproses vir eie opwekking so maklik as moontlik moet wees. Na afloop van 14 jaar is daar genoeg met oplossings getalm – nou moet daar so vinnig as moontlik beweeg word ten einde die energiekrisis beslissend tot ’n einde te bring.”

Volgens Mulder is Ramaphosa se aankondiging is die eerste stap om die ekonomie te red en is die vooruitsig van ’n stabiele kragnetwerk verblydend. Hy is verder van mening dat sou industrieë slegs krag vir eie gebruik kon opwek, sonder om dit aan ander Suid-Afrikaners te verkoop, die verligting wat dít aan die netwerk bied reeds genoeg sou wees om ’n wesenlike verskil te maak.

“Iets waaroor meer uitsluitsel nodig is, is Eskom se rol in die toekomstige energiebedeling. Alhoewel hierdie realisties die einde vir die opwekkingsmonopolie is wat Eskom geniet het, moet daar ’n rol vir Eskom in die energielandskap van Suid-Afrika wees om te vervul.

“Daar is meer sekerheid hieroor nodig vir werknemers sowel as ondernemings,” voer Mulder aan.

“Tot dusver het die regering pynpille voorgeskryf vir ’n ekonomie wat opehart-chirurgie benodig. In die lig van die verwoesting wat Covid gesaai het, het daar weereens vrees ontstaan dat ons pleisters op ’n langtermynprobleem probeer plak. Daarom verwelkom ons dít wat lyk soos die nodige radikale ingryping in Suid-Afrika se energiekrisis.

“Hopelik is die ekonomie nou uiteindelik op die operasietafel en kan daar ernstig gepoog word om soveel hindernisse as moontlik uit die weg te ruim,” sluit Mulder af.

Related Articles

Back to top button