NewsNews

Hadeda moontlik ‘n slagoffer van nuwe seermaakgier

"Ons weet nie waarom mense dit doen nie - dalk om die voëls te vang en te eet, of dalk net uit wreedheid," sê 'n voëlkenner

‘n Foto van ‘n hadeda wat voortsukkel omdat ‘n lang stuk tou om sy pote geknoop is, het die afgelope naweek groot belangstelling en empatie van voëlliefhebbers op Facebook uitgelok. Die foto van die langbeenvoël is deur me. Tracy Rudolph van Riversdal geplaas nadat hy twee dae in haar erf geskuil het.

Sy het gewonder waarom hy nie saam met die ander voëls wegvlieg nie en het by nadere ondersoek gesien dat sy pote met ‘n stuk tou aan mekaar gebind is. Tracy het op Facebook gevra of ‘n voëlkenner haar kon kom help om die tou van sy pote af los te kry omdat dit sy vermoë om hoog te vlieg, beperk het.‘n Voëlkenner het die boodskap ongelukkig eers teen skemer gesien toe dit reeds te donker was om die voël te probeer help. Volgens Tracy het die hadeda intussen na haar bure se erf gehinkepink en is sedertdien nie weer gewaar nie.

Lesers het op Facebook bespiegel of iemand die voël opsetlik afgeknou het en of hy dalk self in die stuk tou verstrengel geraak het.

Volgens Celeste Mahne, ‘n voëlkenner van The Owl Rescue Centre, is dit nie onmoontlik nie maar redelik onwaarskynlik dat die hadeda self die tou om albei sy pote kon laat knoop het. Sy vermoed dat dit dalk opsetlik deur kwajongens gedoen is.“Dis deesdae ‘n gewilde gier om hadedas se pote aan mekaar vas te maak. Ons het die afgelope weke ‘n paar sulke voorvalle gesien. Ons weet nie waarom mense dit doen nie – dalk om die voëls te vang en te eet, of dalk net uit wreedheid,” sê Celeste.

Sy beveel aan dat mense haar by 071 674 7959 kontak as hulle enige soort voël opmerk wat hulp nodig het. “’n Mens kan ‘n voël se vlerke of pote maklik breek as hy nie op die regte manier hanteer word nie,” sê sy. Buiten Celeste het The Owl Rescue Centre ook ander voëlkenners wat vrywillige werk in die Vaaldriehoek en Heidelberg doen. Die hoofkantoor is in Hartbeespoort. Lees gerus meer oor hul werk by https://www.owlrescuecentre.org.za

Nog ‘n voëlliefhebber, Louise Erasmus, raai mense aan om nie toue, lyntjies of selfs gebruikte tandevlos buite te laat rondlê nie. “Knip die ringe wat van plastiekbottels af kom stukkend, want voëls en klein diertjies kry dit om hul nekke. Trap ook blikkies plat omdat honger diere die kosreuk kry en dit wil uitlek, dan sit hulle bekke daarin vas.”

* Hadedas kom redelik algemeen in boomryke gebiede voor. Hulle eet graag spinnekoppe, erdwurms en duisendpote, en help ook om slakke in die tuin uit te roei. Hulle word veral verwelkom op rolbal- en gholfbane omdat hulle larwes van motte en kewers wat grasperke verniel, met hul lang snawels uitsnuffel en eet.

 

Die hadeda kon met die tou om sy pote net tot op die betonmuur vlieg voordat hy sukkelend weg is en nie weer gevind kon word nie.

Hadeda moontlik ‘n slagoffer van nuwe seermaakgier

Related Articles

Back to top button