NewsNews

Beloning van R70 000 vir inligting oor skade by motorsaak

Twaalf voertuie met vreetmiddel bespuit

‘n Onderneming in Vanderbijlpark wat gebruikte motors verkoop, het verlede Woensdagnag honderde duisende rand se skade gely toe vandale ‘n chemiese vreetmiddel op 12 voertuie in hul buite-uitstalruimte gespuit of uitgegiet het.Toe Gerrie du Toit Donderdagoggend by sy onderneming, Sellermark Trading op die hoek van Livingstone-boulevard en General Smutsstraat in CE2 aankom, het hy gesien dat daar ‘n vreemde vloeistof en vlekke op die voertuie was.
Mnr. Gerrie du Toit, eienaar van Sellermark Trading.
By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit remvloeistof of ‘n ander chemiese middel was wat blase in die motors se verf veroorsaak het.
“Die voertuie se verf dop nie net af nie. So ‘n chemiese middel trek ook in die bakwerk in. Dit beteken dat die voertuie nie net oorgesprei kan word nie, want dan sal die verf net wéér afdop. Almal sal heeltemal afgeskuur en die bakwerk spesiaal behandel moet word voordat alles weer hersprei kan word,” sê Gerrie. Hy bereken dat die skade minstens R240 000 gaan beloop.
Die voertuie wat beskadig is, sluit onder andere ‘n BMW, twee Corsa-bakkies, ‘n Toyota en twee Peugeots in. Al 12 voertuie is tans by ‘n duikklopper waar ‘n versekeringsassessor besig is om die skade te bepaal. Videomateriaal van sekuriteitskameras word tans deur kundiges ondersoek om te probeer vasstel wie vir die enorme skade verantwoordelik was.
Die onderneming bied ‘n beloning van R70 000 aan vir inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die vandale sal lei. Enigiemand met konkrete inligting kan die onderneming by 082 979 0839 kontak.
https://vaalweekblad.com/96693/beloning-van-r70-000-vir-inligting-oor-skade-by-motorsaak/

Related Articles

Back to top button