NewsNews

Gemors dryf inwoners tot raserny

Morsjorse wat aanhou om hul gemors oorkant huise in Du Preezstraat in Fochville te gooi, het inwoners warm onder die kraag.

“Ons woon al byna 20 jaar hier en het nog altyd lekker gewoon. Net meer as ‘n jaar en ‘n half gelede het dinge egter begin om handuit te ruk.”
Só sê een van die inwoners, mnr. Vickus Pieters. Volgens hom het morsjorse vroeg verlede jaar begin om gemors in die veld oorkant sy huis te gooi. Tydens die inperkingstyd het dit al meer begin gebeur en só erg geraak dat Pieters moes reël dat ‘n sloot voor die roete wat die morsjorse gebruik om in die veld in te ry, gegrawe moet word om hulle te keer. Hoewel dié aksie wel sommige van hulle gestop het, het ander net begin om hul gemors reg op die sypaadjie te gooi.
Pieters sê die ergste van alles is dat van die morsjorse bekende sakelui van Fochville is wat veronderstel is om van beter te weet. Hy het ook van die foto’s wat hy van hulle geneem het, aan die Herald beskikbaar gestel.
Hy sien ook dikwels mense wat stadig ry en eers kyk of iemand hulle sien, voor hulle hul gemors oorkant sy erf en die van sy bure gooi. ‘n Ma het byvoorbeeld onlangs eers ‘n paar keer verbygery om te kyk of alles “skoon” is, voor haar kinders agterna gekom het en hul gemors op die sypaadjie kom gooi het. Sy was blykbaar baie onvriendelik toe Pieters dié kinders oor hul morsery konfronteer. Volgens hom sal hy graag wil hê dat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit teen die morsjorse moet optree en die gemors wat reeds op die sypaadjie en in die veld oorkant sy huis lê, optel.
Die Herald het die munisipaliteit oor die probleem genader, maar hulle het nie teen druktyd op ons vrae gereageer nie.

Related Articles

Back to top button