NewsNews

Plaasmoord verdagte sterf in hospitaal

Een van die drie verdagtes wat verlede jaar in hegtenis geneem is nadat ‘n bejaarde vrou op ‘n plaas in die Fochville-omgewing vermoor is, is verlede naweek dood.

Volgens die kommunikasiebeampte van die polisie in Fochville, sers. Elsie Tshonte, is Deborah Swanepoel Sondag in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood. “Sy was lank siek en het die afgelope tyd baie gely,” sê Tshonte. Swanepoel (65), haar seun Pieter (30) en ‘n vriend, Chris van Vuuren (24), is in Februarie verlede jaar op aanklag van moord en huisroof in hegtenis geneem nadat die 84-jarige Susan Nell vroeër dieselfde maand op die plaas Elandfontein vermoor is.

Nell se liggaam is in haar huis onder ‘n hoop klere gevind nadat sy vermoedelik verwurg is. Die twee Swanepoels en Van Vuuren was volgens berigte haweloos toe Nell haar oor hulle ontferm het en hulle op haar plaas laat woon het. Tshonte sê Pieter Swanepoel en Chris van Vuuren het weer gister, 12 Mei, in die hof verskyn.

Related Articles

Back to top button