NewsNews

Inwoner moet self munisipaliteit se gemors skoonmaak

‘n Inwoner van Welverdiend het verlede Vrydag blase op haar hande gehad toe sy die gemors wat die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit agtergelaat het nadat hulle ‘n pyp herstel het, moes opruim.

Volgens mnr. Kobus Gouws van 13de Straat het ‘n waterpyp Sondag, 25 April op hul sypaadjie gebars. Na verskeie oproepe aan die genoemde munisipaliteit het werkers uiteindelik Maandag, 3 Mei uitgekom om dit te herstel. Hulle het ‘n stootskraper gebruik om die pyp oop te grawe en die gat weer toe te maak. Toe hulle klaar was, het hulle die grond wat in die straat ingespoel het, net so gelos. Hulle het ook nie die gat heeltemal toegemaak nie. Daar was so baie grond in die pad dat die motors daarop gegly het. Om te keer dat dit ‘n ongeluk veroorsaak, het die Gouws-egpaar se buurvrou, mev. Liza Aucamp, self Vrydag ingespring om die grond van die onderkant van die pad op te vee. Aucamp en ‘n seun van die omgewing, wat net as “Fransie” bekend staan, het vir ure gespook om die pad weer veilig te maak. “Ek voel dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die munisipaliteit van inwoners verwag om hulle werk vir hulle te doen,” sê mnr. Gouws. Hy en sy vrou Isabel is in hul 80’s en het eers later die dag besef dat Aucamp besig was om die werk self te doen. Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag oor die probleem uitgevra. ‘n Woordvoerder het belowe dat werkers sou teruggaan om die laaste gemors op te ruim en die gat behoorlik toe te maak.

Related Articles

Back to top button