NewsNews

VIDEO: Vuisgeveg by skool: was dit ʼn ‘barney’ of was dit boelie?

Videomatriaal van twee seuns wat mekaar met vuiste bydam in ‘n badkamer by Gimmies is hierdie week op sosiale media gedeel. Was dit 'n 'barney' of was dit boelie?

Videomatriaal van twee seuns wat mekaar met vuiste bydam in ‘n badkamer by Gimmies is verlede week op sosiale media gedeel. Leerlinge wat saamgedrom het om die vuisgeveg te aanskou, het hulle selfone gebruik om dit te verfilm en dit verlede week op sosiale media aangestuur.

Die publiek het hulle sterk teen hierdie vuisgeveg uitgespreek en was bekommerd dat dit deel van boeliegedrag is. Ouers het deesdae gegronde vrese teenoor boeliegedrag wat by sommige skole nie sterk genoeg aangespreek word nie. Boeliegedrag het onlangs weer opnuut onder die soeklig gekom nadat Netwerk24 berig het dat ʼn graad-10 leerling van Limpopo op 12 April selfdood gepleeg het nadat sy die dag by haar skool “aangerand en geboelie” is. Videomateriaal wat wys hoe sy geslaan is, is ook op sosiale media gedeel.

Die Herald se susterskoerant, Potchefstroom Herald, het die hoof van Gimmies, mnr. Roelof Oosthuizen, vir kommentaar genader waarna hy bevestig het dat die twee leerders aangespreek is en tugstappe gevolg is. Hy het gesê dat hy glad nie die vuisgeveg goedkeur nie en dat hy ook met die hele skool gepraat het om leerlinge net weer van die gevare van sosiale media bewus te maak.

Die Herald het ook prof. Pieter Joubert, ʼn sielkundige van Potchefstroom, se mening oor die voorval gevra. Nadat hy die video gesien en ook met die onderhoof van Gimmies, Christine Pienaar, gepraat het, het hy tot die slotsom gekom dat die voorval ʼn gewone bakleiery tussen twee seuns is. “Dis is wat die Engelsman ʼn gewone “barney” (bakleiery) noem. Dit is so oud soos die berge. Dis maar net twee outjies wat te veel testosteroon het en mekaar oor ʼn meisie geslaan het”, sê hy.

Prof. Joubert vertel toe hy op skool was, sy skoolhoof selfs vir twee seuns wat wil baklei elkeen ʼn paar bokshandskoene gegee het sodat hulle die vuisgeveg formeel in die skoolsaal kan voortsit. “Die res van die skool kon dan 5c betaal om die bakleiery te sien. Daarna moes die seuns handskut en was als verby”, lag hy.

Volgens prof. Joubert is boeliegedrag iets anders. Boeliegedrag is wanneer ʼn persoon deur een of meer persone oor ʼn lang tydperk geteister word. Seuns boelie gewoonlik deur ʼn ander seun fisies by te kom. Hulle wurg of slaan ʼn ander leerling gewoonlik op ʼn plek, soos die ribbes, waar ander nie die blou kolle kan sien nie. Meisies maak weer veral van sosiale media gebruik om iemand af te kraak. “Dit is belangrik dat ‘n skool aan beide die persoon wat geboelie word en die boelie moet aandag gee. Dit help nie om ‘n boelie te skors nie. Daar is ‘n rede waarom ‘n kind boelie en dit moet ook aangespreek word”, sê hy.

Prof. Joubert noem dat wetgewing in Suid-Afrika baie streng oor boeliegedrag is en dat ʼn skool aanspreeklik gehou kan word om skadevergoeding aan ʼn eiser te betaal indien hulle bewus was van ʼn spesifieke leerder se probleme met boeliery, maar nie ingegryp het nie. Hy noem verder dat die Kinderbeskermingswet (Child Justice Act) van 2008 kinders nou vanaf 14 jarige ouderdom krimineel verantwoordbaar hou.

Related Articles

Back to top button