NewsNews

Honderde slaggate raak lewensgevaarlik

Martin Pretorius van Sonlandpark sê egter Rusticana se paaie is nog mooi teenoor dié in sy gebied.

Verskeie inwoners van die Rusticana-hoewes buite Vanderbijlpark het die Herald se susterskoerant Vaalweekblad die afgelope weke gekontak met ‘n versoek dat die Emfuleni-munisipaliteit aandag aan die gehawende paaie in hul gebied moet gee.

Me. Marelize Swanepoel is een van die beswaardes wat sê dat die talle slaggate nie net hul voertuie beskadig nie, maar dat dit ook lewensgevaarlik vir padgebruikers kan wees en ongelukke kan veroorsaak. Dit is veral snags en wanneer dit reën gevaarlik as die slaggate nie deur motoriste raakgesien kan word nie.

“Ons moet die paaie elke dag gebruik om werk toe en terug te ry en dit lyk só! Dis ‘n skande,” sê Marelize.San-Mari Minatto sê jy kan nie meer die slaggate probeer misry nie want hulle is letterlik oral.Elmarie Knott van Wyk en haar gesin ry deesdae nie meer op die pad nie, maar eerder op die grond langsaan.

“Daardie pad is onbegaanbaar,” sê sy.Volgens Pikkie van Jaarsveld word die pad elke drie maande gelap maar ‘n paar dae later is dieselfde gate drie keer groter. Inwoners vra nou dat Emfuleni die hele pad moet herteer. Christine Maartens, wat die pad ook gereeld ry, sê sommige inwoners pak klippe in die grondpad langs die gehawende pad sodat motoriste nie daar kan ry en stofwalms veroorsaak nie. “Padvarke kom egter steeds daar afgejaag ondanks die feit dat die pad in so ‘n swak toestand is,” sê sy.

Karien Myburgh stem saam en sê dit is veral trokke wat teen ‘n hoë spoed deur die gate jaag en dit groter laat word.     Martin Pretorius van Sonlandpark sê egter Rusticana se paaie is nog mooi teenoor dié in sy gebied, waar motoriste plek-plek letterlik op die sypaadjies moet ry.

FOTO’s ONDER:  Slaggate sover as wat die oog kan sien. Dié foto’s van een van die paaie in Rusticana is deur Marelize Swanepoel geneem. 

Related Articles

Back to top button