BlogsNewsNewsOpinions

Antjie se heldedaad!

Tong in die kies storie. Kleinsus Antjie (pekinees), die rondloper gemmerkat met die een oog en ‘n duif se onderonsie.

Miskien moet hierdie storie met ‘n knippie sout geneem word. Dalk is dit 100% waar. Ek het dit nie self aanskou nie, maar ek sal vertel soos dit aan my oorvertel is.

Dit gaan oor Kleinsus Antjie (pekinees), die rondloper gemmerkat en ‘n duif. Dit het so ‘n week of wat gelede gebeur. Ek en Ma was nie tuis nie. Maar Ma sê, Pa sê die rondloper gemmerkat met die een oog het ‘n duif gevang in die agterplaas.

Sy sê, Pa sê Antjie het die hele poging tot moord met haar eie pekinese ogies aanskou en net daar het kruppel-Antjie verander in Super-Antjie. Blykbaar vergeet sy toe heeltemal van haar agterste beentjie waarop sy van geboorte af nie kan trap nie en snel volspoed op die kat af. Sy grom. Sy blaf. Die hare staan regop.

Die kat kry gelukkig die boodskap, laat los die duif en spaander oor die muur. Die duif hou kop, klap vlerke en vlieg na veiligheid. Kleinsus Antjie snuffel eers waar ‘n paar verlore vere lê, voordat sy in die koelte gaan waghou.

Sy hou die muur dop, as daardie kat weer sy pote in haar erf sit, verloor hy straks sy ander oog ook. Dat die rondloper gemmerkat met die een oog ten minste twee keer groter is as sy, skeel haar min. Antjie sien haarself op goeie dae so groot soos ‘n labrador en na hierdie heldedaad selfs groter!

So is ek toe die verhaal vertel. “Gaan jy nie die vere wat daar buite lê afneem nie?”, vra Ma. Ek kyk verbaas op. “Hoekom?” “Want jy moet skryf oor Antjie se heldedaad! Sy het die duif se lewe gered,” verklaar Ma. “Is so, gaan vra jou Pa.”

“Ja”, sê ek en gaan aan met my werk. Woensdag gaan koop Ma die koerant. “Ag nee, waar is Antjie se heldedaad?” vra sy. “Wat help dit mens het ‘n joernalis in die huis en hier gebeur hierdie groot storie en nou word daar nie eens daaroor geskryf nie?”

Dus om die vrede te bewaar en terwyl Kleinsus Antjie nou hoeka my hond is, het ek besluit om die storie te vertel. Ons glo Antjie se bedoeling was om die duif se lewe te red.

Ek meen sy sal mos nou nie die duif vir haarself wou gehad het nie. Dis blote toeval dat sy so lief is vir hoender, nie waar nie?

Antjie se heldedaad!

Related Articles

Back to top button