In dié artikel van afrikaans.com gee Annelie van Jaarsveldt ‘n goeie samevatting van die taalregte van Afrikaanssprekende studente op Suid-Afrikaanse kampusse, praat sy van Afrikaans as net een van vier tale wat in die eerste agt dekades van die 20ste eeu van ’n spreektaal tot ’n hoogkultuurtaal ontwikkel het en gee sy verslag van die DAK-netwerk se protesaksie waarin geëis word dat Afrikaans steeds as volwaardige akademiese taal by die Universiteit van Stellenbosh aangewend word.
’n Oorsig
Die afgelope paar weke is die taalregte van Afrikaanssprekende studente op Suid-Afrikaanse kampusse weer kwaai getroef en het gevoelens hoog geloop – trouens, die kwessie van taalbeleid is nog lank nie verby nie. Dit blyk steeds dat die gevoelens en vooroordele van nie-Afrikaanssprekendes voorkeur geniet.
Afrikaans lewer ’n belangrike bydrae tot gehalte-onderrig
Die inisiatiewe rondom die stigting van private Afrikaanse tersiêre instellings en organisasies, soos byvoorbeeld Akademia, Sol-Tech, Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole) is ’n bewys dat die Afrikaanse tersiêre sektor steeds uitbrei en leerders en studente in lyn met internasionale standaarde vir die toekoms toegerus word.
Sukses deur Afrikaans
Die bevordering van moedertaalonderrig en die voordele wat dit inhou, lê ons na aan die hart en ons sal nie ophou om bewusmaking hieroor te skep nie. Vir ons is moedertaalonderrig ononderhandelbaar. Kyk ’n mens maar net om jou is daar soveel bewyse hiervan. Afrikaanssprekendes wat oor die jare op etlike gebiede sukses behaal het – in en deur Afrikaans. Ekonome, wetenskaplikes, vakkundiges, skrywers, akteurs, musikante, sportlui en akademici – noem maar op … mense wat skouers skuur met hulle buitelandse eweknieë en hoog aangeskryf word. Om maar net enkeles uit ’n ellelange lys te noem – van hulle reeds oorlede: Japie van Zyl – een van die voorste NASA-ruimtewetenskaplikes en dryfveer agter etlike ruimteprojekte. Die hartchirurg dr Chris Barnard wat die wêreld se eerste mens-tot-mens hartoorplanting gedoen het. Die digter Adam Small wat ’n onmisbare nalatenskap aan Afrikaans nagelaat het. Die menseregteaktivis en bekende kampvegter vir Afrikaans, Danny Titus. En dan ook mense soos die akteur Arnold Vosloo wat groot naam as akteur in Amerika maak, die Olimpiese wêreldrekordhoueratleet Wayde van Niekerk, die skrywer Deon Meyer … en so meer. Almal verskilmakers uit eie reg.
“Afrikaans gaan nêrens”
Die skrywer Gaireyha Fredericks en die digter Lynthia Julius is maar twee Afrikaanssprekendes wat ’n passie vir Afrikaans en alles wat die taal kan bereik, het. Sê Fredericks: “As long as wat daa activists bestaan wat al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly … wat ek wel versiekke wiet, is dat daar ’n verniewing van waardeering vir moedertong broei en oppie ground-level baie wêk gedoen wôd ommat die realization van validation nou ees rerag by Djan Alleman gedawn het.” Na aanleiding van die jongste debat oor Afrikaans in universiteite, vertel Julius in ’n meningstuk op LitNET hoe woedend sy en haar suster destyds tussen die taaldebatte by Kovsies was. Hoe hulle heeltyd moes hoor hulle praat die taal van die onderdrukker – nie dat dit haar gestuit het nie. Maar sy sê ook dat sy nie meer kwaad is oor Afrikaans by universiteite nie, want “die waarheid is, Afrikaans gaan nêrens. Vat daai mense wat ’n taal op ander afdwing aan en moenie laat hulle maklik van dit af loskom nie … Ons het g’n rede om bekommerd te wees nie. Ons praat die taal, ons skryf in hom, hou feeste in hom … dit gaan nie oor die oorlewing van Afrikaans nie, want môre koop ons nog steeds Afrikaanse koerante … luister ek steeds Gert Vlok Nel … bid iemand steeds die Onse Vader in Afrikaans … ek kan jou belowe: Môre-aand om die braaivleisvuur praat Afrikaanssprekendes nie Engels nie en die gedigte wat ek die naweek gaan skryf, sal nie in Engels wees nie.”