NewsNews

“4 uit 10 vlei munisipaliteit”

“Vier uit tien, is dalk nog te hoog. Ek sou dit liewer ‘n twee of ‘n drie gee” “J.B. Marks word met dié punt gevlei”

“Vier uit tien, is dalk nog te hoog. Ek sou dit liewer ‘n twee of ‘n drie gee”

“J.B. Marks word met dié punt gevlei”

So het Prof.Andrè Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes Universiteit en Chris Hattingh, kiesafdelingshoof van die DA in J.B. Marks, onderskeidelik oor die nuus reageer oor die ‘prestasie’ wat J.B. Marks munisipaliteit ontvang het.

Afriforum het Dinsdag die Sentrum vir Plaaslike Regering bekendgestel. Die resultate van munisipale oudits in die Noordwes is ook bekend gemaak.

“Die sentrum gaan plaaslike selfbestuuropsies vir gemeenskappe ondersoek en ook navorsing doen om die ware toestand van munisipaliteite toe te lig. Laasgenoemde sal sake soos munisipale korrupsie en dienslewering aanroer. Dit sal dus as sowel ’n intellektuele voertuig vir selfbestuur as ’n munisipale waghond optree,” het dr. Eugene Brink, bestuurder van dié navorsingsentrum, gesê.

Die munisipale oudits ondersoek die demografie, sosio-ekonomiese toestand, diensleweringskwessies en bestuur van munisipaliteite. Elke verslag ontleed die munisipaliteite binne ’n spesifieke provinsie, en aan elke munisipaliteit word ’n indrukspunt toegeken wat uit tien tel.

Volgens die verslag is meeste munisipaliteite in die Noordwes ‘n punt van tussen een en twee uit tien toegeken. J.B. Marks munisipaliteit het vier uit tien gekry terwyl die swakste munisipaliteit in die provinsie, Ratlou munisipaliteit, 0.5 uit 10 ontvang het.

Volgens Duvenhage is die ‘eer’ om as beste in die provinsie aangedui te word geen aanduiding van die gesonde toestand van die munisipaliteit nie.

“Jy moet kyk waarmee jy dit vergelyk. Jy kyk na ‘n provinsie wat self onder administrasie is. Die hele provinsie is besig om te verval. Dit is totale chaos,” het Duvenhage gesê.

Volgens hom sê dié prestasie meer oor die provinsie as oor die munisipaliteit.

“As jy hierdie munisipaliteit in die Wes Kaap plaas, sal dit seker nie eers ‘n punt gekry het nie,” het Hattingh gesê.

Volgens hom was die destydse Tlokwe munisipaliteit een van die beste in die land gewees. J.B. Marks is gestig toe Tlokwe en Ventersdorp munisipaliteite in 2016 saam gesmelt het.

“Nou moet ons smeek dat slaggate, waterlekke en rioolstortings herstel word. As jy gelukkig is word dit op ‘n Sondag gedoen. Die tesourie beraam dat onreëlmatige, ongemagtigde en vrugtelose en verkwistende uitgawes teen einde Junie vanjaar oor die R4 miljard gaan wees. Waaroor daar niks gedoen word nie,” het Hattingh gesê.

Volgens hom word raadslede dood geskree in vergaderings as hulle vrae vra rondom finansies. Lede van die munisipale rekenings komittee het ook glo nie meer toegang tot tender dokumnete nie.

“Met alle respek aan die goeie werk wat die oudit beoog om te doen, J.B. Marks munisipaliteit verdien nie die punt wat aan hom toegeken is nie,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button