NewsNews

Frisco word mondig: ‘n Hele 100 in ‘mensjare’

Frisco word mondig: ‘n Hele 100 in ‘mensjare’

Het ‘n kat nege lewens? As ‘n mens bygelowig is, miskien. Maar as gelowige glo ek dis suiwer Godsgenade, goeie kos en baie liefde wat my Frisco al vir een-en-twintig jaar dra.
 
Die jaar: 2000. Die gebeurtenis: Ons kry ‘n troeteldier by Vereeniging DBV. ‘n Kat.
Hy was nie meer ‘n babakatjie nie, omtrent so vier maande oud en het alleen agter gesit, nie voor saam met die ander waar hulle aandag gekry het nie. ‘n Pragtige langhaarkatjie, donkerbruin en wit met groot, groen oë. In die sonlig het sy bruin hare rooierig geskyn en dit het my laat dink aan die rooi-bruin kleur van Frisco-poeierkoffie. Vandaar sy naam.
 
Deur die jare was Frisco ‘n wonderlike metgesel deur my lewensreis. In my hartseer oomblikke sou hy op die bed spring en sy pootjie op my wang sit totdat ek ophou huil. Ons het darem ook baie lag-oomblikke saam gehad.
 
Frisco is ‘n prater. Hy hou van gesels. Ek het aanvanklik gedink hy is maar net ‘n raserige katjie, maar het mettertyd besef dit was sy manier om te kommunikeer. Van toe af het ons land en sand gesels en begrip vir my katjie se katwees-behoeftes het gegroei. Hy is ‘n baie soet katjie met die mooiste maniere. Nooit op die kombuiskaste gespring of sy toilet in die huis gemaak nie en hy het nooit my meubels gekrap nie.
 
Verlede maand, op 16 Februarie 2021, was dit 21 jaar sedert hierdie katjie gebore is. Dit is die ekwivalent van ‘n 100-jarige omie. Sy koppie is grys, sy ogies raak dof. Hy is reeds doof en sy pootjies is soms baie seer van artritis. Meeste van sy tandjies is getrek en hy sukkel so bietjie om op te staan vanweë rugprobleme. Maar hy is nog sterk en grootliks onafhanklik wanneer dit kom by eet, toilet toe gaan en rondbeweeg. Hy speel nie eintlik meer nie. Hy spin en praat ook al minder en wanneer hy doen, is dit vir my so ‘n riem onder die hart.
 
Waarmee hy wel hulp nodig het, is om te was en persoonlike kietsie-higiëne toe te pas. Hy kan nie meer oral bykom nie en is nie meer so buigsaam soos jare tevore nie. Sy ore moet gereeld skoongemaak word en sy naels geknip word. Daagliks word sy gesiggie en lyfie gewas met ‘n louwarm waslap en tandjies word geborsel – tot die beste van my vermoë – dié wat nog oor is.
 
Weens die grendelstaat werk ek nie meer nie en is besigheid verskriklik stil, meeste mense kry swaar en dit raak al moeiliker om die mas op te kom. Omdat Frisco so oud is, eet hy net spesiaal geformuleerde kos en probeer ek deurgaans vir hom homeopatiese produkte kry om sy lewer, niere en hart gesond te hou. Indien enige katliefhebber ‘n bydrae wil maak of meer wil weet oor Frisco, kan hulle my webblad besoek by www.galileeministry.co.za/frisco
Ek weet nie hoeveel tyd ek nog oor het saam met my dierbare kat nie, maar ek wil graag dit wat daar nog gaan wees, vir hom so goed en gemaklik probeer maak as wat ek kan.
 
Ek wil ook baie dankie sê aan almal wat reeds ondersteuning vir my en Frisco gegee het, spesifiek sy peetma, Nikki B en Gary B, asook Drie Riviere Dierekliniek en Driehoek Dierehospitaal.
 
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
 
https://vaalweekblad.com/89044/frisco-word-mondig-n-hele-100-in-mensjare/
 

Related Articles

Back to top button