“Dit het begin met ‘n sinkplaat hier en ‘n sinkplaat daar maar nou word die fabriek teen ‘n skrikwekkende tempo uitmekaar gehaal,” vertel ‘n inwoner wat naby aan die fabriek bly.
Die fabriek is naby die Vereeniging se duikweg op die hoek van Generaal Hertzogweg en Mario Milanirylaan en staan glo as die Tosca-gebou bekend.
“Mens hoor heeldag die geklingel van stukke metaal van die dak af val,” het ‘n inwoner aan Vaalweekblad vertel terwyl die metaaldiewe oorkant die straat gewerk het om stukke van die dak los te maak.
“Hulle is besig van die oggend tot die aand en doen dit helder oor dag sonder dat sekuriteitspersoneel, die maatskappy of die polisie iets daaraan doen,” vertel hy.
Tydens Vaalweekblad se besoek het ons verskeie mense by die perseel sien ingaan en uitkom deur ‘n stuk van die betonmuur wat afgebreek is.
Een van die metaaldiewe het dooduiters ‘n metaalsaag onder sy baadjie ingedruk toe hy ‘n aankomende polisiemotor gewaar het.
Die polisie, salig onbewus daarvan, het net verby gery.
Kort daarna het ‘n ander man met ‘n reusagtige paal uit die fabriek se gronde gekom en oor die straat geloop.
Meeste van die verdagtes het deur ‘n oop veld in die rigting van Vereeniging se stasie geloop.
Kapt. Fikile Funda, ‘n woordvoerder vir die polisie in Vereeniging, is vir kommentaar genader.
Hy het nog nie reageer nie.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: