NewsNews

Wolves krieketklub wys weer hul staal

Die Wolves krieketklub het die naweek hul opponente van Wolmaransstad laat les opsê.

Die span wat uit spelers van regoor die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit bestaan, het ‘n Noordwes Krieketliga-wedstryd in Wolmaransstad gespeel.

Volgens die klub se woordvoerder, Barney de Koker, het die manne gefokus op die veld gestap nadat hul kaptein, Zennen Naudé, die loot gewen het en besluit het om eerste te boul. Ruan de Koker het eerste die nuwe bal gevat en in die eerste beurt van die wedstryd sy eerste paaltjie laat kantel. Hy het tydens die wedstryd weer uitstekend geboul. Hy het in 7.4 beurte geboul en in die tyd ses paaltjies laat kantel en net 25 lopies afgestaan.

Zennen het drie paaltjies laat val en SP Botha het ook een paaltjie gevat. Die voorsitter van die klub, Daniël Naudé, het aan Herald vertel dat die spelers se toewyding en harde oefening duidelik gewys het toe hulle 210 lopies aangeteken het. Die Wolves het die veld met mening met kolf in die hand gevat en kon ‘n wen aanteken met nog vyf paaltjies staande.

Zennen het ‘n uitmuntende beurt gespeel en 71 lopies, nie uit nie, aangeteken om die Wolves tot ‘n oorwinning te lei. Hy is bygestaan deur Eben Moller wat ook 32 lopies, nie uit nie, aangeteken het. “Elke speler het sy bydrae met kolf en bal in die hand gelewer en dit maak my as voorsitter baie trots. Ek sien uit na die res van die wedstryde,” het Daniël gesê. Ruan en Zennen is gesamentlik aangewys as Speler van die Wedstryd met hul uitstekende spel met bal en kolf. Die Wolves het die komende naweek ‘n ruskans voor hulle op 27 Maart die span van 9T20 Eleven van Potchefstroom op Boys High se velde die stryd aansê.

Op 3 April kom hulle tuis teen die span van Geek Acadamy te staan. Laasgenoemde wedstryd sal op Hoërskool Carletonville se velde plaasvind. Alle belangstellendes wat saam wil oefen is steeds meer as welkom om Daniël vir enige navrae by 082 055 2879 te skakel.

Related Articles

Back to top button