NewsNews

Fietsongeluk: ‘Ek wens ons kon meer vir jou gedoen het…’

Anke van der Schyff skryf na aanleiding van ‘n ongeluk wat verlede Maandag die lewe van ‘n vrou op haar fiets in Ravelstraat, Stokkiesdraai, geëis het:

Vandag was ‘n bitter moeilike dag. Eers die oproep dat daar ‘n ongeluk was en dat ‘n ambulans benodig word.
Ek maak so gou soos ek kan om so vinnig moontlik te help. Ek hou my asem op en hoop en bid die persoon is oukei. Minder as 15 minute later verklaar die paramedici haar dood.
My hart sukkel. Dis iemand se ma. Iemand se vrou. Iemand se sussie. Iemand se kind. Vier ure staan ons in die son en help met die verkeer. Sommige mense gaan koop vir ons koeldrank en water, sommige mense is net ongeskik.
Maar dis nie waar my hart so sukkel nie. Sy lê daar in die pad, met haar mense wat met soveel respek na die toneel gekom het in hul tradisionele klere. Hulle sit daar – en huil.
My oog vang haar boetie wat hartverskeurend huil. Ek troos hom en al wat ek kan sê is dat ek so jammer is, want ek is. Ek sluk my trane meer as een keer terug, maar binne my huil alles.
Haar man sit saggies en huil. Ek kan sy gesig nie vergeet nie..
Toe die ongelukseenheid foto’s neem, word alle voertuie gestop en ‘n doodse stilte het geheers. Snaaks dat ons dit ‘n doodse stilte noem, want dit was presies hoe dit was. Die dood was so teenwoordig en niemand sê ‘n woord nie.
Vandag was ‘n seer dag. Ek ken nie jou naam nie, maar ek weet ons het alles gedoen wat ons kon. Ek wens ons kon meer vir jou gedoen het en al die trane vandag gespaar het..
Mag God hierdie familie vertroos. Rus saggies…
* Die oorledene is later geïdentifiseer as mev. Tryness Moyo (27), ‘n Malawiese burger. (Vaalweekblad).
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/88604/fietsongeluk-ek-wens-ons-kon-meer-vir-jou-gedoen-het/

Related Articles

Back to top button