NewsNews

‘Ek is dubbel geseën,’ sê Shaun na 2 ernstige ongelukke

Hy sal die trauma weens die ongelukke vir niemand toewens nie. Tog sien hy die positiewe raak wat daarmee saamgekom het.

Nadat twee padongelukke Shaun Smith in die afgelope vier jaar op ‘n pad vol pyn en trauma geplaas het, kan hy vandag terugkyk met die wete dat dit so bestem was. Die ongelukke, sowel as sy wonderbaarlike genesing, was noodsaaklik sodat hy vandag die lig na ‘n meer betekenisvolle, nuwe bestemming kan sien.

Shaun, wat in Vanderbijlpark grootgeword het, was ‘n ingenieurstudent aan die Noordwes-Universiteit toe hy op 27 November 2016 in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke was. Hy was die middag vanaf sy ouers se vulstasie, net buite Vanderbijlpark, op pad huis toe, toe ‘n motor sonder waarskuwing voor sy motorfiets indraai. In die kritieke oomblikke daarna het ‘n paar dinge gebeur wat volgens Shaun en sy ouers, David en Annamarie, wonderwerke was wat sy lewe gered het.

Shaun het mettertyd besef dat sy linkerarm lam was. Dit was die gevolg van senuweeskade weens die nekwond. Shaun se ma het deur navorsing op ‘n dokter in Amerika afgekom wat in dié tipe beserings spesialiseer. Hy het aangebied om Shaun in Dubai te opereer waar hy gereeld uitreikingswerk doen.

“Ons het in geloof opgetree, die geld oorbetaal en die operasie laat doen,” sê Annamarie. Die herstel ná so ‘n senuweeoperasie is ‘n baie tydsame proses, en hoewel Shaun steeds nie die volle funksie van sy arm terug het nie, het hy reeds groot vordering gemaak. Die hoop is dat hy met tyd die gebruik van sy arm en hand sal herwin.

Shaun het na die ongeluk en operasies so normaal as moontlik met sy studentelewe voortgegaan en sy ouers het vir hom ‘n klein outomatiese motor gekoop om meer onafhanklik te wees.

Presies 23 maande na die eerste ongeluk moes sy ouers weer langs sy hospitaalbed staan nadat Shaun baie ernstig in ‘n tweede ongeluk beseer is. Wat presies gebeur het, weet Shaun tot vandag toe nie, maar sy kar het die sementpilaar van ‘n brug op die pad tussen Vanderbijlpark en Sasolburg getref en ‘n paar keer gerol. Sy beserings was dié keer selfs ernstiger as met die eerste ongeluk. Hy het ‘n breinskeur opgedoen wat bloeding op die brein veroorsaak het.

Die dorp se krag was dié nag af en hoewel die hospitaal noodkragopwekkers gehad het, was die telefoon- en rekenaarstelsel buite werking. Die ontvangsdame het haar persoonlike selfoon gebruik om ‘n kollega by ‘n hospitaal in dieselfde groep te bel, sy ouers op te spoor en sy oorplasing na Alberton Unie-hospitaal te reël. Sy toestand was kritiek.

“Die dokter het gesê dat Shaun baie ernstige breinskade opgedoen het en as hy sou bly leef, hy waarskynlik vir die res van sy lewe in ‘n vegetatiewe toestand sou wees,” onthou sy pa, David.

Weer was daar die een na die ander positiewe verwikkeling wat niks anders as wonderwerke was nie, sê die gesin. Ondanks pyn en baie frustrasies het Shaun goed herstel. Vyf maande later kon hy sy universiteitstudies hervat en dit in die eerste semester van 2020 voltooi. Hy het onlangs ook gehoor dat hy werk by ‘n gesogte onderneming in Johannesburg gekry het.

Hy sal die trauma weens die ongelukke vir niemand toewens nie. Tog sien hy die positiewe raak wat daarmee saamgekom het. Dit het hom laat besef dat hy met God se genade, innerlike krag en deursettingsvermoë het. As mens het hy gegroei en vandag kan hy met meer omgee en begrip na ander mense kyk.

“Die inperking herinner my dat die lewe nie net oor ‘n mens self gaan nie, maar eerder oor jou medemens. Ek is dankbaar dat ek nog gesond is, selfs al is my immuunstelsel verswak omdat ek my milt verloor het. Ek word soms in die nagte wakker van pyn in my arm, maar dit is blykbaar ‘n teken van genesing na my senuweeskade. Ek sien dit as ‘n goeie ding. Ek wil so standvastig in die lewe raak dat ek kan begin om bediening as ‘n roeping in my lewe aan te pak,” sê Shaun.

Sy ongelukke en die gevolglike trauma het hom beslis nader aan die Skepper gebring. Daar is ‘n nuwe rigting en nuwe blydskap in sy lewe.

“Al hoe ek my verhaal kan beskryf, is: Halleluja, alle eer aan God!”

Shaun Smith, wat ondanks twee grusame ongelukke steeds op die blink kant van die lewe wil fokus. Hier is hy afgeneem saam met die sangeres Lianie May tydens een van haar optredes by Saloon 2000.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘Ek is dubbel geseën,’ sê Shaun na 2 ernstige ongelukke

Related Articles

Back to top button