NewsNews

Romanza skrywer vestig haar in die Vaal

Ontmoet Vanderbijlpark se nuwe Romanza skrywer, Felicia Snyman du Toit.

Felicia Snyman du Toit (32) was van kleintyd af mal oor lees en skryf. Sy het selfs haar maats se opstelle vir hulle geskryf. Haar grootste droom was om eendag skrywer te word.

Helaas, dinge werk nie altyd uit presies soos beplan nie. Felicia het regte gaan studeer en ‘n prokureur geword. Dit was tydens haar klerkskap wat die ou hunkering na skryf weer in haar hart kom nesskrop het.

“Ek het besluit om ‘n skryfkursus te doen en dit was heel toevallig oor hoe om ‘n liefdesverhaal te skryf,” vertel sy.
Deur die kursus het sy haar eerste manuskrip voltooi en ingestuur.

“Ek was baie opgewonde toe dit dadelik aanvaar is. Die skrywersgogga het my daar gebyt en ek het nog nie weer opgehou nie,” lag sy vrolik.

Dit was in 2016. Sedertdien het sy al 10 Romanzas die lig laat sien. Felicia sê as sy eers begin skryf, neem ‘n storie gou vorm aan.

Van die boeke wat Felicia al geskryf het. Foto: Verskaf

“Ek het Bosveldliefde in net oor die twee weke klaargemaak,” onthou sy. “Daar is tye wat dit moeiliker gaan. Ek het ses maande geneem om Leila se leeuman te voltooi.”

Felicia werk op die oomblik aan ‘n spannings/misdaadverhaal en oorweeg ook om ‘n paar kinderboeke te skryf.

“Dis nou vandat ek in Desember 2019 getroud is en ma van ‘n dogter geword het. Sy is nou in graad 2 en ons seuntjie is op pad.”

Felicia het eers in Centurion gewoon en gewerk, maar woon nou in Vanderbijlpark. “Ek het ter wille van die liefde verhuis,” lag sy.

Naas haar man en kinders, is Felicia ook gek na haar Boston terriër, Riley. “Ek is bekend as die ‘meisie met die hond’, want ek verskyn altyd saam met Riley op publisiteitsfoto’s.”

Sy het steeds ‘n voorliefde vir lees en wanneer sy kans kry, geniet sy dans en musiek. Sy het eers ballet gedoen, maar het later ook Ballroom- en Latyns-Amerikaanse danse geniet.

Haar raad vir voornemende skrywers is: “Glo in jou storie. Moenie opgee nie. Elke skrywer voel soms moedeloos, maar druk deur en maak die storie klaar. Vat ‘n kans!”

Vir meer inligting, volg gerus haar Facebookblad by @Felicia Snyman Skrywer. Al haar boeke is in boekwinkels of by www.lapa.co.za beskikbaar.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Romanza skrywer vestig haar in die Vaal

Related Articles

Back to top button