EntertainmentNewsNews

Lize-Marie Naudé – Liefste Dromer

Dié wiskunde-onnie sing oor liefde in die grendeltyd.

Die Oos-Randse sangeres, aktrise en onderwyseres Lize-Marie Naudé se nuutste enkelsnit Liefste Dromer is pas vrygestel en spreek temas soos vrese vir seerkry en onkunde oor die liefde aan.

Dié enkelsnit, wat kort op die hakke van haar tweede grendeltydperkenkelsnit Dagbreek volg, moedig jong verliefdes aan om vir mekaar te kan sê: “Maar ons is goed vir mekaar.”

“Ek het uit my eie ervarings besef dat liefde wat nie oorgaan tot dade nie slegs ‘n droom bly en ek het dit as vertrekpunt gebruik toe ek aan die lied begin werk het,” verklap sy.

Liefste Dromer is die derde enkelsnit wat sy by haar lys van oorspronklike liedjies kan voeg. Sy het twee jar gelede haar eerste enkelsnit Lighuis  vrygestel wat goed op plaaslike radiostasies en in die media ontvang en geniet is. Dié liedjie het haar as luisterliedkunstenaar gevestig en haar onbedorwe lirieke en vinnige byval by die publiek gevind.

Liefste Dromer is deur Rian Swanepoel van Protrax studio vervaardiger en Lize-Marie en Dawie Bornman het ‘n spanpoging aangewend en die liedjie neergepen.    Die lied se tema word ondersteun deur strelende kitaarspel wat van die eerste noot af dadelik jou aandag vasvang en hou.

“Drome is niks nuuts nie,” verklaar Lize-Marie. As sy nie op die verhoog is nie – Covid-19 het haar loopbaan vir ‘n wyle gefnuik – is sy ‘n wiskunde- en Afrikaansonderwyseres.  “Ek werk elke dag hard daaraan om my en my leerlinge se drome te verwenslik,” sê sy.

Lize-Marie se liefde vir haar taal is opvallend wanneer jy na haar lirieke luister. Elke versreël is met moeite en deernis gekies, gebeitel en verfyn. Haar musiekhelde sluit Nadine en Laurika Rauch in juis oor hoe hul lirieke met die taal omgang.

Na-uurs bestuur sy haar besigheid Virtuoso waar sy haar kennis oor musiek en drama met aspirantkunstenaars deel.

Sy beplan om in 2021 op verdere studies te fokus en hoop om eendag as rolprentregisseur te werk.

Sy beoog om nog een enkelsnit vry te stel waarna sy haar hulpbronne wil aanwend om ’n vollengte album uit te reik.

As dit nie vir musiek was nie, het Lize-Marie heel waarskynlik ’n loopbaan as fisioterapeut of biokinetikus gevolg, enigiets waarin sy mense kon help om hulself te verbeter.

Lize-Marie se musiek sal nog vir lank nie uitgedoof word nie. Met haar eerlike, opregte en afgeronde musiek en lirieke sal sy aanhou om aanhangers van alle ouderdomme en agtergronde nader te trek.

Related Articles

Back to top button