NewsNews

Ek was ‘n eerstejaar in 1990 …

“krrrr... het u al u TV lisensie betaal? krrr... Radio Puk!”

Dis 1990. Ons staan met een hand in die lug, die ander min of meer op ons naeltjies waar ons die denkbeeldige knoppies draai om die sein op te vang. Ons sing die dorelied. Ons moet, want ons is dore.

Ons sing baie. Ons loop in gelid. Almal met rooi rompe en wit hemde. Polistereen hoed op die kop. Dis ‘n groot lawaai as meer as een koshuis tegelyk die duikweg tref. Almal sing. “As ek deur die duikweg stap…”

Voor die koshuis eers stop, eers groet. “Karlien, ons huis hier op die PUK, vir ons bring jy net geluk.” Etenstye staan ons weer in gelid voor die eetsaal. Almal saam: “Kaputte kaputte kapat, die dore se magies is plat. Kaputte kaputte kapat, Sentraal kom vul nou die gat.” Baie koshuise eet in Sentraal.

“Groet die manskoshuis,” gee die huiskomitee (HK) opdrag. Ons loer onderlangs. Dore mag nie opkyk nie, ons moet blik-in-die-as. Sien kaalvoete. Ons weet wie is saam met ons. Almal saam: “Die dore van Karlien groet nie die manne van Over de Voor nie.” Die HK lag. Die Overs manne gluur. Ons eet ons kos met paplepels.

Aandstilte word versteur. “Gou, kry swart rou bande. Ons moet Makouvlei toe. Bring kussingslope saam!” Ons skarrel. Ons gehoorsaam. Draai sommer die radio se swart draad om die arm. Swart is swart. In gelid tot by Makouvlei. Groot konsternasie. Die jong makoue (eerstejaars) moet elkeen met ‘n eier in die sak rondloop. Een het gebreek. Ons het ‘n roudiens vir die gebreekte eier. “Julle moet huil tot jul kussingslope nat is,” raas die HK. Ons huil. Totdat ‘n jong knaap opstaan en ernstig verklaar: “Van scrambled egg tot scrambled egg.” Ons stik van die lag. Kussingslope voor die gesig. ‘n Door mag nie lag nie. Volgende aksie is met ons sleepkoshuis. “Julle is by die see. Smeer die manne room. Speel op die strand.” Ons verbeelding omtower die koshuis sitkamervloer in ‘n strand. Ons is moeg. “Ek swem. Ek verdrink,” verklaar ek en maak my oë toe vir ‘n slapie. Skielik word dit stil om my. Maak een oog oop. Een van die manskoshuis se HK lede kyk op my af. “Wat maak jy nou eintlik?” Is ‘n groot man. Hy lyk kwaai. “Is jy moeg?,” vra hy. “Ja Oom”. “Slaap maar,” lag hy en gaan sit op die groot stoel voor my sodat niemand anders my kan pla nie. Dore tyd. Lank terug se tyd. Goeie tyd.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://vaalweekblad.com/84635/ek-was-n-eerstejaar-in-1990/

Related Articles

Back to top button