NewsNews

‘n Nuwe plan met morsjorse

As jy hulle nie kan vang nie moet jy hulle stop.

Dít is die plan wat ‘n gemeenskapsleier in Fochville die afgelope feestyd met die hulp van die munisipaliteit gemaak het om ‘n einde aan jarelange rommelstrooiery langs ‘n deel van een van die dorp se strate te maak.
Inwoners van Du Preezstraat kla al vir jare oor mense wat hul gemors in die veld langs die straat gooi. Dié morsjorse gooi veral hul rommel aan die onderkant van die straat en naby die ingang na 2de Straat. ‘n Ent verder in die pad af is daar ook iemand, volgens ander inwoners ‘n man van ‘n huis in hul midde, wat bourommel op die sypaadjie gegooi het. Volgens mnr. Braam Nel het die klagtes oor mense wat rommel in die veld oorkant 2de Straat gooi, die afgelope tyd ingestroom. Morsjorse het ook nie net hul gemors op die sypaadjie langs die pad gegooi nie, maar ook sommer tussen die bome ingery en hul gemors, wat enige iets van tuinvullis tot huishoudelike afval insluit, daar gaan gooi.
Nel het egter die munisipaliteit vir hulp gevra en amptenare het gereël dat een van hul skrapers ‘n sloot oor die morsjorse se toegangspad skraap.
Vandat dié stap geneem is, het die strooi van rommel baie afgeneem.
Die Herald het Dinsdag die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gevra of hulle nie dieselfde plan op ander plekke waar rommel gereëld gestrooi word, soos byvoorbeeld langs die ou munisipale terrein langs Agnew Rylaan in Carletonville kan gebruik nie. Volgens ‘n munisipale woordvoerder is ‘n nuwe diensverskaffer aangestel om die probleme by die Fochville vullisterrein uit te sorter. Sodra húlle met die munisipaliteit se laaigraaf klaar is, sal dit ook in ander areas gebruik kan word.

Related Articles

Back to top button