NewsNews

Liefde wen ook in dié paartjie se lewe

Die bekende Afrikaanse sanger, Almero Welgemoed, is in Desember met die liefde van sy lewe, Miné Fourie, in Potchefstroom getroud.

Die bekende Afrikaanse sanger, Almero Welgemoed, is in Desember met die liefde van sy lewe, Miné Fourie, in Potchefstroom getroud. Hulle huwelikseremonie en onthaal by die klein restaurant en kroeg, Vida Verde, was pragtig en intiem en so onpretensieus en vrolik soos die bruidspaar self.

Soos die meeste troupaartjies wat verlede jaar tydens die streng inperktyd wou trou, was hulle ook verplig om die huwelikseremonie tot later in die jaar uit te stel. Dit het beteken dat Almero twee groot gebeurtenisse op een slag moes afhandel – trou en ‘n nuwe album vrystel – wat hy natuurlik albei met ‘flair’ gedoen het.

nwu afr

Almero het lank nie meer bekendstelling nodig nie. Mense onthou hom vir sy musiekmedewerking met Bouwer Bosch. Dié twee het saam die duet, Nul is nie niks nie, opgeneem wat ook die temalied van ‘n jeugfilm met dieselfde titel geword het. Hy het ook die verhoog saam met Bosch in 2017 by die OppiKoppi-musiekfees gedeel. En dan is daar ook sy bekende enkelsnit, Vloedverliefd, wat hy saam met die sanger, Danie du Toit van Spoegwolf vrygestel het. Om alles te kroon is Almero ook ‘n uitsonderlike digter en skrywer. Behalwe vir sy eie digbundel, Donderweer Gedagtes, het hy ook saam met Bouwer Bosch die digbundel, Liefde Wen, vrygestel. Dié bundel handel oor die liefde en al die verskillende vorme daarvan. “Mense en hul verhoudings met mekaar inspireer my. Dit het begin as ‘n digkompetisie. Ons het oor die 400 inskrywings ontvang en het ons gunstelingwerke uitgekies om deel uit te maak van die bundel,” het hy in 2018 aan ‘n verslaggewer van Afrikaanse Musieknuus vertel.

Hoewel Almero en sy broer Nico, hoofsaaklik aan die vervaardiging van videoproduksies werk, ruim hulle ook tyd in vir musiek skryf. So het hulle die afgelope twee jaar aan Almero se nuwe solo-album, “Junie;”, gewerk wat op 8 Januarie vrygestel is. “Dit bevat dele van my en Miné se verhaal wat die misterie van ons verhouding onthul as jy daarna luister,” vertel Almero geheimsinnig.

Almero Welgemoed se tweede solo-album wat onlangs vrygestel is. Foto: Verskaf

Gelukkig was dié paartjie gewillig om hul liefdesverhaal met ons te deel en soos die noodlot dit bepaal het, het alles natuurlik met musiek begin. Miné het Almero se musiek in 2016 op Youtube ontdek. “Sy musiek het my dadelik aangeraak en sy lirieke het my emosies verwoord. Ek het ook gedink hy is baie aantreklik,” sê sy met ‘n vonkel in haar oë. Sy vertel dat sy Almero se e-posadres op Youtube gesien het en sommer spontaan vir hom ‘n e-pos gestuur het waarin sy haar bewondering met hom gedeel het. “Ek het amper ‘uitgefreak’ toe hy teruggeantwoord het!”

Twee maande later het sy hom van ver af op Aardklop gesien en vir hom ‘n Instagram-boodskap gestuur om te bevestig of dit hy is. Hy het destyds by die Liefde Wen-stalletjie gewerk. Hy sê toe ja en nooi haar dat sy moet kom hello sê by die stalletjie. Maar om ‘n held trompop te loop is nie in Miné se aard nie. Sy het besluit om eers ‘n brief te skryf en ‘n foto van hom te skets wat sy vir hom wou gee. “Ek het toe begin twyfel of ek dit wel vir hom moet vat, maar my ma het my oortuig,” vertel Miné verder. Almero onthou nog hoe sy die briefie oor die toonbank vir hom gegee het en gesê het sy is ‘n groot ‘fan’. “Sy is toe weer weg voor ons ‘n foto saam kon neem. Ek onthou net dat sy so opgewonde was en dat haar lyf en gesig dit weerspieël het. Dit was die eerste ding wat ek van haar aantreklik gevind het – haar ‘excitability’. As Miné opgewonde raak, kan sy dit nie wegsteek nie. Haar emosies is diep en sigbaar.”

Miné (neé Fourie) Welgemoed. Foto: Nico Welgemoed

Miné vertel weer dat haar hart soos tjoklits gesmelt het toe hy vir haar glimlag. Daardie aand het Almero vir haar ‘n boodskap op Instagram gestuur om dankie te sê vir die brief en toe ruil hulle nommers uit. “Ek was natuurlik klaar verlief en verlore, so ek was dalk bietjie oorgretig. Ons het toe op WhatsApp begin gesels en ek het haar teruggenooi om die volgende dag saam met my ‘n foto te neem,” vertel Almero. Daarna het hulle lank oor die foon gesels en het Miné vir hom in Johannesburg gaan kuier. Sy het later ook by die gesin op Mosselbaai gekuier waar hulle romantiese verhouding amptelik begin het.

Bietjie meer as drie jaar nadat hulle mekaar ontmoet het, het hulle op 1 September 2019 by Blouberg se strand in die Kaap verloof geraak. Almero het vooraf met sy broer en twee vriende gereël om ‘n mooi plekkie op die strand op te stel met kersies en liggies, Sterri Stumpi Milkshakes en Tripple X Mints. Miné was geblinddoek en Almero het voor haar gaan staan om die groot vraag te vra. Vir haar was dit ‘n groot verrassing.

Hulle het nog baie drome saam, maar eers wil Miné haar studies in onderwys voltooi. Hulle kreatiwiteit is onkeerbaar. Hulle is tans besig om aan ‘n kinderboek te werk wat Almero skryf en Miné illustreer. Die tweetjies wil nog baie avonture saam beleef en eendag ‘n byeplaas besit. Maar vir nou, na die troue, vestig hulle hul in Potchefstroom waar hulle in ‘n klein woonstel, met ‘n tuin vol kruie en hadidas, nesskrop.

Related Articles

Back to top button