NewsNewsSportSport

Michael Bondesio: Oud-Luiperds skrumskakel laat sy lig skyn

"Die Luiperds en Olënpark het soveel geskiedenis en om daarvan deel te kon wees, was wonderlik. Die pawiljoene in daardie drie jaar het al hoe voller geword en dit was ‘n groot voorreg om voor die Mielieboere te kon speel."

‘n Mens wat lief is vir wat hy doen hoef nooit ‘n dag in sy lewe te werk nie. Hierdie woorde is waar vir die voormalige Luiperds en Leeus skrumskakel, Michael Bondesio, wat tans in sy tuisdorp, Lichtenburg, steeds sy passie vir rugby nou met afrigting vervul. Bondesio is die hoofafrigter van Hoërskool Lichtenburg se eerste rugbyspan vir die afgelope vier jaar en het in daardie tydperk groot sukses behaal en ook ‘n klomp talentvolle spelers geïdentifiseer. Vir Bondesio was dit ‘n terugkeer na sy wortels as ‘n voormalige Hoërskool Lichtenburg leerder, ‘n kans om terug te gee aan sy skool en die spel van rugby wat hom nog altyd waardevolle lesse en vreugde gebied het.

Michael Bondesio in sy speeldae vir die Luiperds. Bondesio het in meer as 50 wedstryde vir die Luiperds uitgedraf. Foto: Mario van de Wall

Rugbyondersteuners in Potchefstroom en die groter Noordwes sal vir Bondesio as ‘n flink en slim skrumskakel onthou wat in Chaka Willemse se 2008-2010 Luiperdsgroep was wat in die Curriebeker Premierliga gespeel het. Leeusondersteuners sal hom veral onthou vir sy puik bydrae tot die 2011 Curriebekeroorwinning teen die Sharks op Ellispark, sowel as ander top vertonings op Curriebeker en Superrugbyvlak.

Hoe onthou Bondesio sy speeldae vir die Luiperds op die geskiedkundige Olënpark?

“Die Luiperds en Olënpark het soveel geskiedenis en om daarvan deel te kon wees, was wonderlik. Die pawiljoene in daardie drie jaar het al hoe voller geword en dit was ‘n groot voorreg om voor die Mielieboere te kon speel.

Dit was ‘n groot oomblik toe ons in 2008 gekwalifiseer het om in die Curriebeker Premierliga te speel. Ons was vir twee tot drie jaar ‘n hegte familie by die Luiperds omdat ons van onder af saam met Chaka Willemse en DP Swart moes begin het. “Chaka het my oorreed om eerder professioneel rugby te begin speel as om in die onderwys te gaan en vir die Puk te speel. Dit was verseker die regte opsie.

“Die Luiperds saam met die Pukke was so ‘n groot deel van my rugbyloopbaan, beslis ‘n nederige ervaring. Ek het nog kontak met baie van my spanmaats. Een van die redes waarom ek so lief is vir rugby, is daardie kameraderie,” beklemtoon Bondesio. Vir Bondesio is rugby se waardes, bande en kameraderie juis iets wat hy ook in sy eie lewe as afrigter by Hoërskool Lichtenburg toepas – ‘n roete wat in 2014 al begin het toe hy sy stewels op 29 weens aanhoudende beserings opgehang het.

“Ek was bevoorreg om my B.Ed en honneursgraad te kon voltooi en het in 2015 ‘n geleentheid gekry om by Hoërskool Linden te kon skoolhou. Ek het daar begin met my afrigting by die o.14’s en was ook daardie jaar die Pirates se eerstespan agterlynafrigter. In 2016 het ek ‘n pos aanvaar by my alma mater, Hoërskool Lichtenburg, as sportdirekteur en rig nou reeds vier jaar die eerste rugbyspan af,” noem hy.

‘n Klompie jare vantevore het Bondesio op die veld sy beste skolerugby vir Liggies gespeel en dit tot reggekry om ‘n wen teen die magtige Affies se o.16-span te behaal. Van jongs af het Bondesio en sy spanmaats bewys dat hulle die staal het om meer erkende spanne te klop. Iets wat hy weer by die Luiperds en Leeus ook bewys het.

Michael Bondesio as hoofafrigter van Hoërskool Lichtenburg se eerste rugbyspan. Foto: Anna-Marie Scheepers van Rooyen/Facebook

“My rugby herinnering wat ek van skool het, is beslis toe ons as o.16 span vir Affies 10-8 gewen het. Daar het op skoolvlak baie afrigters/onderwysers ‘n groot rol in my lewe gespeel wat my verseker ontwikkel het as mens en rugbyspeler. My grootste mentors op skool was beslis my hekkieafrigters (mnr. Piet Ernst en me. Lucia Joubert) asook my rugbyafrigters (mnr. Christo van Dyk en Henry van der Rhyst).” 

Bondesio is juis in die bevoorregte posisie om te weet wat dit verg om die topvlak te bereik en ook wat dit beteken om vir Liggies se eerstespan te speel. “Die rede waarom ek daarvan hou om met skoolseuns te werk, is die feit dat hulle so honger is om te leer en om te verbeter. Daar is regtig so baie talent in die platteland wat nie altyd raakgesien word nie,” vertel Bondesio, wie se toekomsplanne in Lichtenburg gevestig is saam sy vrou, Madelene en kinders, Michael en Grethe-Lee.

“My vrou, wat ‘n mediese suster is, het my in hierdie tyd regtig geïnspireer om elke dag te gaan werk in die inperkingstydperk en regtig nooit gekla het nie,” vertel hierdie familieman wat graag jag en visvang, maar ook in sy vrye tyd ukulele en kitaar speel. As Bondesio terugkyk na sy jare met die 9 op sy rug, sonder hy die 2011 Curriebekertitel sowel as die 2008 Curriebeker Eerste Divisietitel as sy grootste hoogtepunte uit.

“Ek het altyd geglo dat ek meer die tradisionele skrumskakel was. Ek was altyd lief vir die kontak, om te verdedig en met die bal te hardloop. Ek was ‘n skrumskakel met goeie visie en sterk om die losskrums. Die feit dat die afrigters my die vryheid gegee het om myself te kon uitdruk op die veld was vir my lekker.”

Related Articles

Back to top button