NewsNews

Hongaarse boerseun verlaat die NWU en dalk ook Suid-Afrika

György Sándor Fazakas het na 38 jaar as dwarsfluitdosent by die Skool vir Musiek aan die Noordwes-Universiteit aan die einde van Desember 2020 uit die akademie getree.

György Sándor Fazakas het na 38 jaar as dwarsfluitdosent by die Skool vir Musiek aan die Noordwes-Universiteit aan die einde van Desember 2020 uit die akademie getree.

Hy is wyd as geliefde musiekdosent van die NWU bekend, maar die meeste sal hom eerder as ‘n eksentrieke kunstenaar onthou – nie alleen vanweë sy vreemde Hongaarse familienaam nie, maar ook die manier waarop hy weier om homself in ‘n boksie te plaas.

nwu afr

Hy is nie ‘n klassieke snob nie. Die meeste ken hom as die ruimhartige, plat-op-die-aarde George Fazakas wat altyd tyd vir ‘n geselsie of grappie inruim. Hoewel hy as uitvoerende kunstenaar onder die klassieke orkeste en gehore hoog in aanvraag is, is hy in wese eintlik ‘n rocker wat uit die boks dink. Daar is ook geen aanstellerigheid by hom te bespeur nie.

George het sy musiektalent van sy pa geërf. Sy pa, János Fazakas, was ‘n tubaspeler in ‘n Hongaarse orkes en sy lewe het ‘n wye draai gemaak voor die Fazakas-gesin hulle uiteindelik in Suid-Afrika gevestig het.

George is in 1955 in Miskolc, Hongarye gebore en het kort daarna as baba saam met sy ouers na Suid-Afrika gevlug toe die Hongaarse Revolusie in 1956 uitgebreek het. Studente het teen die Russe opgestaan. Duisende landsburgers het met die revolusie gesterf en ongeveer 200 000 het na ander lande gevlug. János het in een van die vlugtelingkampe in Hongarye juis ‘n advertensie raakgelees dat die SAUK-orkes in Johannesburg ‘n basspeler kort en die gesin het Suid-Afrika toe geëmigreer.

In Suid-Afrika was daar ongelukkig ‘n misverstand, want die orkes het toe nie ‘n basspeler of tubaspeler nodig gehad nie, maar eintlik ‘n fagotspeler (bassoon). Sy pa het toe noodgedwonge ‘n paar jaar by die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk waar hy treintrokke help bou het voor hy later weer in 1959 ‘n pos in ‘n orkes in Duitsland aanvaar het wat spesifiek vir Hongaarse vlugtelinge saamgestel was.

In Marl, Duitsland het George vir die eerste keer skoolgegaan en het hy op vyfjarige ouderdom met klavierlesse begin. “My pa het Suid-Afrika altyd onthou en toe die geleentheid homself weer voordoen om Suid-Afrika toe te kom, het hy dit dadelik aangegryp,” vertel George. Hy sê dat die destydse streeksrade (TRUK, SUKOVS ens.) orkeste gevorm het en sy pa in 1964 weer Suid-Afrika toe gekom het om by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK)-orkes aan te sluit. Die res van die gesin het ‘n jaar daarna gevolg.

George het toe sy laerskoolloopbaan in Pretoria by Sunnyside Primary School voortgesit en op 16- jarige ouderdom aan Pretoria Boys High matrikuleer. Na matriek het hy eers sy hand aan joernalistiek by die Rhodes Universiteit gewaag en die jaar daarna drama by Tuks studeer. “Ek moet erken ek het meer gejol as studeer en toe ek na ‘n tweede jaar steeds nie gevorder het nie, het my pa gesê ek moet gaan werk,” vertel hy met ‘n breë glimlag.

George het los werkies by restaurante en drankwinkels gedoen voor hy ‘n meer permanente pos by Greatermans in Pretoria gekry het. Hier het hy ook sy vrou, Maria Alexandra Heredia Fernandes, ‘n Portugese meisie, ontmoet. Hulle was smoorverlief en het ‘n jaar daarna, op 19-jarige ouderdom, getrou. Kort daarna het hulle Johannesburg toe verhuis waar hy by Musiland, ‘n musiekwinkel, begin werk het. Dis hier waar hy dwarsfluit begin speel het en saam met ‘n klomp ander musikante begin musiek maak het. Later toe hy deur die weermag opgeroep is om sy diensplig te voltooi, het hy as fluitspeler by die weermagorkes aangesluit waar hy meer opleiding in dwarsfluit en piccolo gekry het.

In drie jaar het hy sy finale eksamen en twee lisensiate in fluit voltooi. “Ek het by verskeie meesters in fluit begin klas neem onder meer Amos Eisenberg wat betrokke was by die destydse SAUK-orkes en ek het my geleidelik begin toespits op musiekonderrig,” vertel George. Hy het klasse in dwarsfluit en klavier by ‘n konservatorium in Pretoria en by Hoërskool Kemptonpark gegee voordat prof. Attie van der Walt, hoof van die destydse musiekdepartement van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), hom in 1982 genader het om by die universiteit klas te gee. Dis toe dat hy en sy vrou Alex en hul twee kinders Potchefstroom toe verhuis het.

George vertel met trots dat hy bevoorreg was om deel van die NWU se musiekdepartement te kon wees en dink met heimwee terug aan al die NWU-studente wat vandag suksesvolle musiekloopbane in Suid-Afrika en oorsee het: “Ek het so baie verandering by die universiteit beleef en ek is baie trots op die studente wat die naam van die NWU wêreldwyd uitdra, asook die goeie musiekonderwysers wat ons opgelewer het.”

Nie alleen was George deel van talle orkeste en ensembles wat uitvoerings gelewer het nie, maar het hy ook saam met rock-kunstenaars soos Anton Goosen en Piet Botha opgetree. George sê dat hy nooit sal ophou musiek maak nie. Hy tree juis volgende week saam met ander kunstenaars op waar hulle  ‘n konsert getiteld “In Retrospect”, by die Johannesburg Holocaust & Genocide Centre in Johannesburg gaan opneem. Dit vind Woensdag, 13 en Donderdag, 14 Januarie om 21:00 plaas. Kaartjies teen R75 word by Quicket bespreek.

Hoewel Fazakas nie meer ‘n dosent by die NWU is nie, is hy steeds by die Gimnasium Musieksentrum in Potchefstroom betrokke totdat hy en sy vrou hulle later, dalk nog in die eerste helfte van hierdie jaar, in Utrecht, Nederland sal vestig. “Ons het planne om in die eerste helfte van die jaar na Nederland te emigreer omdat ons dogter Bianca en kleinseun Caide nou daar woon.

Ons seun Michael en sy vrou Berdine wat ook op die Puk geswot het en ons twee kleinkinders, Adrian en Clarissa, bly ook nie meer in Suid-Afrika nie, maar in Kanada. “As dit nie was dat my vrou so graag nader aan ons dogter in Nederland wou bly nie, sou ek steeds in Suid-Afrika gebly het, maar sy het my nog altyd in my beroep ondersteun en nou is dit tyd dat ek haar weer ondersteun,” sê hy ernstig.

Vir Potchefstromers is dit ‘n groot verlies, want waar gaan ons nou weer so ‘n eksentrieke musikant kry wat Hongaars, Duits, Afrikaans en Engels magtig is, ewe tuis in klassieke orkeste as op die rock-verhoë is en wat na homself as ‘n “converted”, Hongaarse boerseun verwys?

George Fazakas met sy dwarsfluit by die draaitrap van die NWU Konservatorium. Foto: Venessa van der Westhuizen

https://potchefstroomherald.co.za/82444/hongaarse-boerseun-verlaat-die-nwu-en-dalk-ook-suid-afrika/?fbclid=IwAR0puxLA72-Pg2fAkHRnY7YPecnAU4aj8y0noW4UXGODa7uAXqn4RgnaEJs

Related Articles

Back to top button