NewsNews

‘Juffrou’ Elize se hartlike lag is stil, maar haar impak op leerlinge leef voort

Boodskappe wat na mev. Louw se dood op Facebook geplaas is, getuig van die groot indruk wat sy as onderwyseres op talle mense se lewens gemaak het.

Groot hartseer heers by Vaalpark Primêre Skool van Sasolburg nadat hul geliefde onderwyseres met die welluidende stem en hartlike lag, Elize Louw, Maandag, 16 November, onverwags oorlede is.
Mev. Louw het vroeër die dag siek begin voel en was per motor saam met haar man, Gerhard, en seun Altus op pad na ‘n hospitaal in Vereeniging toe sy naby Rand Water se kantore naar geword het. Toe sy die motordeur oopmaak, het sy vooroor op die sypaadjie geval en vermoedelik ‘n hartaanval gehad.
Motoriste wat agter die Louws gery het, het besef daar is groot fout en het onmiddellik gestop om hulp aan te bied. Prof. Heleen J. van Vuuren, ‘n dosent aan die Noordwes-Universiteit, en haar man Johan was van die eerstes om te stop.
“Ons was nie seker wat met haar gebeur het nie, maar ek het dadelik vir ER24 gebel. ‘n Mnr. Riaan van der Walt het ook reeds gestop en noodhulp begin toepas. Ons kon sien hoe sy blou in die gesig word en het besef sy is in groot gevaar. Die paramedici het opgedaag en ‘n geruime tyd om haar lewe geveg, maar sy kon nie deurgehaal word nie. Dit was baie traumaties vir ons,” sê Heleen.
Boodskappe wat na mev. Louw se dood op Facebook geplaas is, getuig van die groot indruk wat sy as onderwyseres op talle mense se lewens gemaak het.
Nelré Benade se boodskap lui: “My hart is baie seer (oor) die magical vrou wat my die magtige, kragtige invloed van boeke geleer het, wat my toegelaat het om sportperiodes in die biblioteek weg te kruip, wat my geleer het dat lekker lag medisyne is vir maagpyn, my my eerste gediggies geleer het vir kunswedstryde… Sy het my geïnspireer om ‘n onderwyseres te word wat ‘n vak laat lewe. By haar was alles lekker. By haar was jy omring deur boeke, liefde en lig. By haar was elke kind iemand. Juffrou Elize… jou lag sal nog lank agterbly.”
Me. Charlotte Bresser, bekende skilder van Sasolburg, sê sy dink nie daar is enige mens wat met Elize Louw se wonderlike persoonlikheid te doen gehad het, wat haar nie intens gaan mis nie. “Sy laat ‘n onvulbare leemte.”
Vaalpark Primêr skryf in hul kennisgewing oor haar afsterwe: “Vaalpark het ‘n groot gees verloor. Geliefde juffrou Elize het vir bykans 35 jaar duisende kinderharte aangeraak. Ons gaan haar teenwoordigheid in ons lewens oneindig mis!”
Haar seun, Johan, se boodskap vat die gesin se smart só vas: “Vandag is daar nie woorde wat gepas is oor die hartseer en leemte wat Mamma in ons harte los nie. Ek kan nie ‘n wêreld sonder Mamma indink nie maar ek sal alles in my vermoë doen om Mamma trots te maak. Mamma sal vir altyd in my hart bly.”
Wyle mev. Louw is Vrydag vanuit die NG-gemeente Vaalpark begrawe.
Wyle mev. Elize Louw.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘Juffrou’ Elize se hartlike lag is stil, maar haar impak op leerlinge leef voort

Related Articles

Back to top button