NewsNewsSportSport

Fochville se kragoptellers wys hul staal tydens kompetisie

Fochville se ster-kragoptellers, wat al vir dekades talle nasionale sowel as wêreldrekords laat spat het, het onlangs gewys dat hulle nie eers deur Covid-19 gestop kan word nie.

Die kragoptellers het verlede Saterdag ‘n gym-kompetisie gehou. Besoekers van Klerksdorp en Johannesburg het ook kom deelneem.
Een van die plaaslike sterre, Kay-Lee Steyn, het die Suid-Afrikaanse rekord in die hurksit verbeter toe sy 192.5 kg in dié posisie gelig het. Ongelukkig word dié rekord nie erken nie omdat dit nie tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap aangeteken is nie. Dié kampioenskap is vanjaar weens Covid-19 afgestel.
Sy het ook 75 kg van haar bors af opgestoot (“bench press”) en 170 kg van die grond af opgetel (“deadlift”). Volgens Hannie Smith, ‘n Fochviller wat reeds vir tien jaar die voorsitter van die internasionale kragoptel-beheerliggaam se tegniese komitee is, gaan Kay-Lee, wat reeds junior Protea kleure verwerf het, verseker hierdie jaar haar senior kleure verwerf. Sy en verskeie ander vroue oefen reeds baie hard vir die volgende Noordwes en Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Intussen het nóg ‘n Fochviller, Johan (Joe) Smith, ook tydens dieselfde kompetisie presteer. Smith het reeds op skool in die sport presteer en het reeds twee keer die wêreldkampioenskap gewen. Hy het ook vir die Pukke Varsity Cup rugby gespeel, asook vir die Luiperds en die OP Kings op die veld gedraf.

Smith het egter nou sy toks opgehang en hou skool by Laerskool Fochville. Hier het hy egter sy eie Big 5 rugbykliniek en rig ook die skool se eerstespan af. Hy is ook onlangs as Potch Dorp rugbyklub se hoofafrigter herkies. Hy het egter verlede Saterdag in die 120 kg Raw kragoptel-afdeling deelgeneem en ‘n allemintige 350 kg uit die hurksit posisie opgetel. Hy het ook ‘n nuwe nie-amptelike SA rekord van 254 kg in die “benchpress” gelig. Sy beste “deadlift” van 350 kg tydens die kompetisie is ook ‘n nuwe nie-amptelike SA rekord. Joe se neef, Roelof Smith, het ook baie goed tydens die kompetisie presteer en albei van hulle werk hard om te kwalifiseer om volgende jaar aan die sport se wêreldkampioenskap sowel as die wêreldspele in 2022 deel te neem. Al die plaaslike kragoptellers oefen op die plaas Lagayim net buite Fochville.
Die vroue oefen by Bezalel Gym onder die wakende oog van Vicki Botha, wat self al verskeie nasionale kragoptel-titels ingepalm het. Sy was ook vir vier jaar agtereenvolgend die International Federation of BodyBuilding & Fitness (IFBB) se liggaamsbou-kampioen en doen ook steeds kragoptel in die Meesters 1-klas. Die mans oefen onder Joe, Hannie en Roelof Smith se leiding by die Iron Grip Gym op dieselfde plaas.
Belangstellendes kan Botha by 082 447 3848 of Joe by 082 492 5809 skakel.

Related Articles

Back to top button