EntertainmentNewsNews

Daniel Eeuwrick met Anton Goosen: ‘Die land is jy en ek’

Dit is ‘n diep eerlike liedjie wat rou emosies opwek, waar kitaarsnare soos mossels gepluk word en die note net so ongebreideld is soos die see, waar Anton en Daniel nou albei woon.

Op die prikkelomslag van dié splinternuwe enkelsnit Die land is jy en ek verskyn twee baie bekende gesigte. Die een se hare is lank en grys. Sy rooi raambril bedek sy oë. Die ander gesig is net so bekend – kraaispore rondom die oë, korter hare, grys gespikkel. Twee hardebaarde dié. Twee rock ‘n rollers, Anton Goosen saam met Daniel Eeuwick.
Die land is jy en ek pas Anton en Daniel se diep storievertellerstemme soos ’n bokshandskoen en is een van daardie enkelsnitte wat dadelik in jou kop kom vassteek omdat dit jou onmiddellik laat dink aan ‘n langpadreis deur ons mooie land.
Die enkelsnit is ook as musiekvideo op YouTube bekendgestel en het binne ‘n dag nadat dit opgelaai is, meer as ‘n duisend unieke kykers gehad. Die kommentaar van ‘n geswore aanhanger: “Lekker manne, lekker. Dit is so in die kol geskryf en met die note het dit vlerke.”

Dié moderne Afrikaanse rock ‘n roll-snit, wat uit Daniel se pen kom, weerspieël die liefde en passie wat beide kunstenaars vir ons land het. Daniel, het net soos Anton, al die land van die suide na die noorde deurkruis. Anton, nou meer op die vliegtuig waar hy van een stad na die ander stralejakker, en Daniel in sy Zephyr, van dorp-na-dorp. Stad na stad.
Dit is ook waarom Die land is jy en ek vir Daniel so ‘n spesiale betekenis het, want dit vertel die storie van Suid-Afrika. Dit beskryf ‘n reis deur ons land. Van Kosibaai tot by die Richtersveld. Deur velde en oor berge.

Dié twee reisigers se lewens word amper in die koorgedeelte van die liedjie verwoord: …voetpad geloop van suid tot noord..
Die lirieke word ook ‘n metafoor van ons patriotisme aan ‘n land waaraan ons biddend bly vasklou.
Daniel, wat in Port Elizabeth bekend is vir sy bekroonde sement- en glas-argitektoniese ontwerpe, is nie ‘n onbekende stem in die muisiekbedryf nie.
Sy eerste twee vollengte albums het musiekkritici laat gons, en sy enkelsnitte, waarvan hy al die lirieke self geskryf het, is goed deur plaaslike radiostasies ontvang. Hy het ook al ‘n Ghoema-toekenning wat op sy kaggelrak pronk.
Daniel sê Anton is een van sy musikale rolmodelle en daarom is dit ook nie ‘n verrassing dat hy vir Anton as sangmaat gekies het nie. Die twee se stemme vorm die perfekte musikale kombinasie – Anton se kenmerkende muskadel-stem en Daniel se grinterigheid.
Dit is ‘n diep eerlike liedjie wat rou emosies opwek, waar kitaarsnare soos mossels gepluk word en die note net so ongebreideld soos die see, waar Anton en Daniel nou albei woon.
Die liedjie is netjies verpak, tegnies goed versorg, maar ‘n mens kan seker ook nie anders verwag van die vervaardiger Peter Pearlson nie.
Daniel is ‘n groot rock ‘n roll-talent wat nie onderskat moet word nie en hopelik is dit ook nie die laaste keer wat hy en Anton gaan saamwerk nie.

Kyk na die musiekvideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=TKBAHWWkBpU

Related Articles

Back to top button