NewsNews

Prokureur troef dood 2 keer tydens 36 dae in waakeenheid

Opdatering: Herman veg tans teen nuwe terugslag

Die berig het in die Herald se susterskoerant Vaalweekblad van 9 September verskyn. Lees ook die opdatering onderaan. Dit gaan tans nie goed met Herman nie.

In Vaaldriehoekse regskringe is Herman Janzen van Rensburg nie net bekend as ‘n formidabele prokureur nie. Hy was ook nog altyd ‘n reus van ‘n man wat letterlik kop en skouers bo die res uitgestaan het. Tog het die mikroskopies-klein Covid-19 virus dié groot man twee keer kort voor die doodsdeur laat omdraai en veg hy steeds hard om sy gesondheid te herwin.

Herman en sy vrou, Ruzanne, het op 11 Julie albei simptome van Covid-19 begin toon. “Ons smaak en reuk is aangetas en ons was tot die dood toe moeg. Waar my simptome net ‘n vinnige kopverkoue was, het Herman s’n dadelik oorgesit in bronchitus. Ons het onmiddellik met daadwerklike behandeling begin. Herman het egter bly agteruitgaan met erge warm en kouekoors en na 12 dae se tuisbehandeling het ons besef mediese ingryping was nodig,” vertel Ruzanne.

“Dit het gevoel of ‘n olifant op my bors trap,” sê Herman. In daardie stadium was die meeste hospitale se Covid-afdelings nog stampvol. Hy is op 23 Julie in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton met Covidverwante longontsteking opgeneem. Na ‘n dag in ‘n gewone saal is hy oorgeplaas na die intensiewe Covid-waakeenheid waar hy met die volle ventilator-gesigmasker behandel is. Hier moes hy beleef hoe pasiënte voor sy oë sterf, wat ‘n geweldige sielkundige impak op hom gehad het. Iets wat hom altyd sal bybly, is die “Marsmanne” in die intensiewe eenheid – die gesiglose, gemaskerde mediese personeel, die skerp ligte en harde, vreemde geluide van die waakeenheid se masjiene.

Na 10 dae in die waakeenheid moes Ruzanne hoor dat Herman se toestand vinnig agteruitgaan en hy op ‘n volle ventilator geplaas gaan word – iets wat hy van dag een af gevrees het. “Ek en ons kinders, Antonie en Khanya, het onmiddellik al ons Christenvriende gevra om 10:00 die oggend te bid. Kliphard te bid. Om 11:00 die oggend bel die dokter weer en sê hulle gaan Herman ‘n uur of twee gee en dan weer ‘n besluit neem en my laat weet. Uiteindelik is besluit om Herman nog ‘n kans te gee sonder sedasie op ‘n vol ventilator,” sê Ruzanne.

Herman was deurentyd onbeheerbaar angstig en ten volle van ‘n suurstofmasjien afhanklik. Suid-Afrika was steeds in Vlak 3 van die inperking, wat beteken het dat hospitaalpasiënte geen besoek van naasbestaandes kon ontvang nie.

“Die gemiddelde tyd in ‘n waaksaal is 3.3 dae. Pasiënte gaan in ‘n staat van delirium in. Hulle ervaar dikwels hallusinasies weens die sterk medisyne en sink emosioneel in ‘n donker gat in. Op Sondag, 16 Augustus, het Herman se toestand skielik baie agteruit gegaan en is hy ten volle op die ventilator geïntubeer. In die voorafgaande 25 dae het hy geen kontak met ons gehad nie. Tot vandag toe weet ek nie hoe ek dit reggekry het nie, maar na baie tantrums en telefoonoproepe is ek en ons kinders toegelaat om hom te besoek. Al was Herman onder volle verdowing het ek geweet dit sou ‘n impak hê en dat hy sou weet ons is by hom. Ons het hom gesalf en lewe oor hom uitgespreek en vir die Here gevra om hom asseblief vir ons te red,” sê Ruzanne.

Daardie middag was daar reeds ‘n geringe beterskap en twee dae later is hy van die ventilator afgehaal. Vanaf Dinsdag, 18 Augustus, kon Ruzanne hom elke dag besoek en heerlike kos en lekkernye insmokkel. “Hy was net ‘n bondel bene en het sowat 38 kg verloor. Elke dag het ek hom masseer en vertel van die huis, kinders, honde en die lewe daarbuite. Vyf dae nadat hy van die ventilator af is en sewe dae nadat ons met groot kommer langs sy bed gestaan het, is hy vir vier dae na die hoësorg-afdeling geskuif.

Herman moes nog twee weke in die hospitaal bly en in ‘n rehabilitasiesentrum aansterk, maar omdat al sulke sentrums vol was, is hy op 27 Augustus, na 36 dae in die hospitaal, onder streng voorwaardes in ons gesin se sorg ontslaan.

“Dit was hoendervleismooi toe die waakeenheid en hoësorgeenheid se susters die Afrika-gebedslied in Sesotho gesing het terwyl hy in ‘n rolstoel uitgestoot is.” Herman is steeds 100% afhankllik van ‘n suurstofmasjien en is steeds baie maer en swak, maar kry elke dag fisioterapie en kan al een maal per dag 10 meter met sy loopraam stap.

“Wat mens wel met so ‘n ingrypende siekte besef, is dat die lewe kort is vir almal. Alles is vir Herman nou aangrypend mooi. Die blou lug, die lente, ons tuin, die volmaan en natuurlik ons kinders en honde. Ons bedank graag al sy lojale vriende en kliënte vir hul deurlopende ondersteuning en bystand,” sê Ruzanne.

Hul seun, Antonie, wat soos sy pa in die Regte studeer het, staan intussen in by Herman se praktyk totdat hy weer ten volle op die been is.

  • OPDATERING – 16 SEPTEMBER: Die jongste nuus oor Herman is ongelukkig nie goed nie, het Ruzanne vandag laat weet. “Sy toestand het sedert verlede Donderdag weer begin versleg. Hy het voortdurend koors en is tans so swak dat hy nie meer sy daaglikse fisio en ander oefeninge kan doen nie. Sy arme stuitjie is al deurgesit. Hy praat moeilik en het sedert Maandag ‘n aanhoudende hoesie. Volgens die spesialis het hy nog longontsteking en bronchitis in ‘n ligte graad – hulle noem dit “Covid-longe”. Herman se hartspier het ook skade opgedoen,” sê sy.  “Ons is op die oomblik nie in ‘n lekker situasie nie maar is so dankbaar vir almal se ondersteuning. Mense besef nie naastenby wat dit vir ons beteken dat hulle net daar is vir ons met ‘n mooi boodskap en ‘n skouer om op te leun nie. Covid-19 is ‘n aaklige siekte maar ons het ook die ongelooflikste mooi goed en wonderwerke sien gebeur,” sê Ruzanne.
Herman en Ruzanne voordat albei onlangs Covid-19 opgedoen het. Ruzanne het vinnig herstel, maar Herman ly nog aan die nagevolge van die siekte.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Bekende prokureur troef dood 2 keer tydens 36 dae in waakeenheid

Related Articles

Back to top button