NewsNews

Motordief: ‘Ek wou net die kar was”

’n Man wat agter die stuur van ’n ander man sy motorvoertuig gespring het, daarmee weggejaag het en toe 40km verder die kar tydens ’n wilde jaagtog afgeskryf het, sê sy bedoeling was om die kar te was. Isaac Mokwala het voor landdros Chris Kruger getuig dat hy aanvanklik gedink het die voertuig …

’n Man wat in Vereeniging agter die stuur van ’n ander man sy motorvoertuig gespring het, daarmee weggejaag het en toe 40km verder die kar tydens ’n wilde jaagtog afgeskryf het, sê sy bedoeling was om die kar te was.
Isaac Mokwala het voor landdros Chris Kruger getuig dat hy aanvanklik gedink het die voertuig behoort aan ’n vriend van hom – ene “Vincent”.
Nadat hy agter die stuur geklim en weggery het om die voertuig te gaan was kon hy egter hoor hoe mense skree en sê dat hy die kar gesteel het.
Volgens Mokwala het hy bang geraak aangesien hy hom nou klaarblyklik aan die verkeerde kant van die wet bevind en aanhou ry.
Hy was volgens sy weergawe vreesbevange oor wat mense met hom sou doen en kon nie reguit dink nie.
Hy het toe beheer oor die voertuig verloor en dit gerol.
Mokwala is Maandag 7 September in die streekhof in Vereeniging aan motordiefstal skuldig bevind.
Landdros Chris Kruger het Mokwala se getuienis verwerp en gesê dat hy ’n “patetiese getuie” was.
“Dit is baie selde wat ’n getuie opgeroep word om te kom getuig en jy hoor hoe sulke totale nonsens gepraat word.”
Kruger het uitgewys dat Mokwala deurentyd vrae van die staatsaanklaer Amukelani Rikhotso ontwyk het en homself weerspreek het in sy verskillende weergawes oor gebeure.
Guys, die eienaar van die blou Nissan Almera, het getuig dat hy op die betrokke dag (31 Mei) langs die pad in Dawn Park gestop het om ’n sakkie aartappels by ’n smous te koop en die sleutel in die aansluiter gelos het.
Mokwala het glo in die voertuig gespring, vorentoe gery, ’n u-draai gemaak en toe in die teenoorgestelde rigting weggejaag.
Guys het getuig dat hy nie ’n poging aangewend het om die voertuig te stop nie aangesien Mokwala baie vinnig gejaag het en hy nie homself in die pad van die voertuig wou plaas nie aangesien dit gevaarlik sou wees.
Justin Swanepoel, ’n werknemer van die voertuig-opsporingsmaatskappy, het getuig dat hulle vir Mokwala opgespoor en hom toe met ’n voertuig en helikopter agternagesit het.
Swanepoel het getuig hoe Mokwala hom tydens die jaagtog ’n middelvinger gewys het.
Kort daarna het Mokwala beheer oor die voertuig verloor en dit op ’n grondpad gerol.
Guys het getuig dat dit “sy hart gebreek het” toe hy ná die tyd die skade aan sy voertuig gesien het.
Die kar met ’n geraamde waarde van R45 000 het nooit weer gery nie.
Kruger meen dat die staat bo-redelike twyfel bewys het dat Mokwala hom skuldig aan motordiefstal gemaak het.
Die saak is tot 12 Oktober uitgestel vir vonnisoplegging.

Isaac Mokwala het met Harry Guys se blou Nissan Almera weggejaag en dit later gerol. Foto: Christiaan Cloete
Isaac Mokwala nadat hy die voertuig gerol het. Foto: Verskaf
Harry Guys het langs die pad gestop om aartappels te koop. Toe hy weer sien jaag iemand met sy blou Nissan Almera weg. Foto: Verskaf
Harry Guys sê dit het sy hart gebreek toe hy die wrak van sy voertuig ná die ongeluk gesien het. Foto: Verskaf
Isaac Mokwala het die hof probeer oortuig dat hy die voertuig vir ‘n was wou vat. Foto: Christiaan Cloete

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Motordief: ‘Ek wou net die kar was”

 

Related Articles

Back to top button