NewsNews

Gesin se struwelinge na vreemde siekte

Daar is niks soos 'n moeder se liefde vir haar kind nie! ‘n Ma van Vanderbijlpark is tans hard besig om geld in te samel nadat haar dogter, wat aan ‘n seldsame siekte ly, se mediese koste dit genoodsaak het.

“My dogter moes in Januarie ‘n noodoperasie ondergaan. Ons het ‘n verlaagde mediese fonds nadat my man in November weens verskeie redes buite ons beheer, sy werk verloor het. “Die dokters by die Netcare Unie-hospitaal in Alberton vra nie almal mediese tariewe nie, so dit het daartoe gelei dat ons nou met vreeslike mediese uitgawes worstel,” sê Corné Smith.

Die gesin se nagmerrie het begin toe Elizna (nou reeds 26 jaar) in graad 7 in Laerskool Emfulenipark was. “Sy het in die klas gesit en skielik kon sy nie met haar linkeroog sien nie. Die sig het later teruggekom, maar toe doen die regteroog dieselfde,” vertel Corné. Dié voorvalle het meer en vir langer tydperke begin opduik. “Niemand kon vasstel wat die oorsaak was nie. In matriek het Elizna haar eindeksamen met geen sig in die een oog en die ander met net 12% sig geskryf. Haar sig ly steeds daaronder. Sy het intussen aanvaar dat dit realiteit is en dat dit altyd so sal wees.

Elizna voordat al die teëspoed haar getref het.

Toe steek ‘n nuwe probleem sy kop uit! Sowat drie jaar gelede het sy ‘n krapplek opgedoen wat net nie wou ophou bloei nie. Toe begin sy bloukolle kry, haar mond het gebloei, sy het bloed in haar stoelgang gehad en nog ander probleme. Sy was vir ‘n maand in die Garden City-hospitaal waar verskeie toetse gedoen is, maar geen antwoode is gevind nie. Dokters vermoed egter sy het ’n soort bloedsiekte. Volgens Corné was haar dogter weekliks in die hospitaal en moes sy gereeld bloedoortappings en plasma kry. Haar bloed stol ook nie, wat beteken dat sy haar kan doodbloei.

Elizna sukkel ook met bloedarmoede (anemia) weens die bloedtekort en die vreeslike bloukolle oral op haar lyf is weens die die bloeding onder die vel. Dit is met tye vir haar so pynlik dat sy nie eens kan loop nie. So gaan dit dus voort – ‘n paar dae by die huis en dan weer terug hospitaal toe. Een oggend in Januarie toe Corné vir Elizna wou wakker maak, was sy in ‘n koma. “Daar het bloed by haar mond begin uitkom en ek het gevrees sy het bloeding op die brein,” onthou Corné. ‘n Ambulans is dadelik ontbied. Daar is later bevestig dat sy wel bloeding op die brein het en epileptiese aanvalle gekry het as gevolg van die erge drukking in haar brein.

Sy is met ‘n helikopter vanaf die Isak Steyl-stadion na die Netcare Unie-hospitaal gevlieg. Dokters het bevind dat sy ‘n bloedklont op die brein het en daar is vir haar lewe gevrees. Sy was 19 dae in die intensiewe sorgeenheid. Haar pragtige lang hare moes afgeskeer word. Daar is ook besluit om ‘n “port” in te plant sodat Corné haar direk in die hoofaar met vitamine K kon inspuit.

Elizna se pragtige lang hare moes afgeskeer word.

Haar “port” naalde word elke week by Cormed geruil. Die “port” dra daartoe by dat Elizna nie meer sulke erge bloukolle kry nie. Op die oomblik help dit ook dat sy nie weekliks bloedoortappings en plasma hoef te kry nie. “Port-naalde is duur en ons mediese fonds wil dit nie as kroniese medikasie goedkeur nie. Sy kry ook nog elke liewe dag erge hoofpyn en moet pille daarvoor drink,” verduidelik Corné. Daarom word daar nou lootjies verkoop om haar mediese rekenings te betaal.

* Vaal Toyota Sasolburg het ‘n leerbaadjie van egte leer en twee hoede geskenk vir die geskenkpak wat gewen kan word. Belangstellendes wat ‘n lootjie wil koop kan Corné by 082 7098 712 skakel of haar by 079 0570 100 WhatsApp.

Die leerbaadjie en hoede wat gewen kan word.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Vanderbijl-gesin se struwelinge na vreemde siekte

Related Articles

Back to top button