NewsNews

Inwoner stap meer as 1 000 km tydens inperking

‘n Jarelange inwoner van die omgewing wat na ‘n paar jaar in Rustenburg weer terug is in ons omgewing, gebruik die inperkingstyd om al fikser te word en ook geestelik gesond te bly.

‘n Jarelange inwoner van die omgewing wat na ‘n paar jaar in Rustenburg weer terug is in ons omgewing, gebruik die inperkingstyd om al fikser te word en ook geestelik gesond te bly. Willie Nelson (63), deesdae ‘n inwoner van Fochville, sê sy stappery het op 2 April gedurende vlak 5 van die inperkingstyd begin. “Ek het met my beker baie warm koffie om die swembad gestap by ons vorige blyplek in Brits. Dit het 17 rondtes gevat om die beker leeg te drink. Die volgende dag het my vrou, Susan, dit nog warmer vir my gegee en toe neem dit 20 rondtes. Elke rondte was 50m lank,” sê Nelson. Hy het toevallig dieselfde dag van ‘n man gelees wat die Comrades marathon in sy erf om sy huis gaan hardloop. Dit het hom net daar en dan laat besluit om vir die res van die maand om die swembad te stap. Nóg inspirasie het van ‘n vriend in Goodwood in die Kaap gekom wat vir Nelson sy kilometers wat hy stap deurgestuur het. “My eerste mikpunt hierna was 100 rondtes, met ander woorde 5 km die volgende 200 rondtes (10 km). In April het ek op die ou einde 145 km om die swembad gestap. Op 2 Mei het ons na Fochville teruggekeer en het ek hier aanhou stap. Gelukkig vir vlak 4 regulasies kon ons in die straat gaan stap. Die eerste paar dae was daar baie mense wat gestap het, maar dit het elke dag minder en minder geword. Hier het Susan en my dogter Nádene my grootste aansporing geword en spoor my nog elke dag aan. Meimaand het ek 199km gestap, Junie 232km, Julie 271km en tot dusver vir Augustus net oor die 160km,” het hy Dinsdag, 25 Augustus aan die Herald vertel. Op dié dag het hy die 1 000 km werk oorgesteek toe sy totale kilometers op 1 007 km te staan gekom het. “Die stap het my gehelp om ook my kop skoon te kry, lekker te gesels met ons Skepper, die veranderinge in die Skepping waar te neem. Lekker te loop en bid. Daar is mense wat vra vir voorbidding op ‘n gereelde basis. My polsslag het van 76 na 52 slae per minuut geval. My gewig het met 20.3 kg verminder en ek voel sommer gesond en fiks. Gaan ek nou ophou stap? Nee beslis nie. Daar is agt mense regoor Suid- Afrika wat sê ek is hulle aansporing en hulle stap ook nou elke dag,” sê Nelson. Die stappery was egter nie sonder teëspoed nie. In Junie het ‘n hond hom in die straat gebyt en in Julie het ‘n vrou wat op haar selfoon besig was, hom amper raakgery. Hy moes ook twee keer vinnig oor stopstrate hardloop om onder die wiele van aankomende motoriste wat nie by die stoptekens stop nie, uit te bly. Nelson beplan om aan te hou met stap en ook aan te hou om daaroor op Facebook te skryf. Hy wil op 20 September ten minste 15km stap ten bate van ‘n familielid wat sedert 2 April verlam is en 105 dae in ‘n intensiewe sorgeenheid gelê het en nou reeds 40 dae in rehabilitasie is. Hy is nou ‘n kwadrupleeg en behoort op daardie dag huis toe te gaan en Nelson gaan ‘n paar borgskappe benodig vir daardie dag om hom per kilometer te borg. Mense wat graag met die aksie wil help, kan hom by 076 641 5908 skakel of ‘n e-pos na willie.nelson2109@gmail.com stuur.

Related Articles

Back to top button