CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Negejarige vier verjaarsdag saam met die gewone man op straat

Dit wys ‘n mens dat ‘n hart van omgee ‘n groot verskil kan maak in ander se lewens – maak nie saak hoe oud jy is en op watter dag dit is nie.

Op ‘n koue wintersoggend het vullisherwinnaars diamante in die vorm van varsgemaakte worsbroodjies en geurige koppies koffie ontvang.

Hierdie ‘diamante’ is danksy die warm hart van die negejarige Jana van Heerden, ‘n graad 3-leerder van Laerskool ML Fick in Potchefstroom, wat haar verjaarsdag Maandag, 6 Julie, op hierdie barmhartige wyse gevier het.

Kyk die video hier:

Nie net het Jana self die worsbroodjies en koffie vir elke werksoekende op straat en asblikkrapper wat verbygeloop het gegee nie, maar ook vir die meeste ‘n sak vol kruideniersware wat hulle las aansienlik ligter maak.

Saam met haar ouma, oupa en sussie het Jana elke pakkie met ‘n breë glimlag uitgedeel. Wanneer daar ‘n tekort was, is daar weer vinnig ‘n broodjie aanmekaargeslaan en vuurwarm koffie geskink.
Al wat ‘n mens dan hoor is die lekker gesmul en gekou saam met ‘n klomp “dankie dankie” uitlatings uit pure dankbaarheid.

Dit is nie altyd dat hierdie mense wat asblikitems herwin en na werk soek, so ‘n welkome skenking ontvang nie. Soms moet hulle met leë hande en ‘n honger maag gaan slaap.
“Ek bid baie keer vir die mense wat op straat is en honger is. Ek sien hulle verbyloop en dan bid ek vir hulle. Ons doen ook huisgodsdiens en ek het gedink dit sal ‘n goeie idee wees om op my verjaarsdag kos uit te deel,” vertel Jana.

In die kospakkie is ‘n aantal items, waaronder blikkies vis, mieliemeel, rys, koffie en brood. Elke verbyganger het ook twee worsbroodjies en ‘n koppie tuisgemaakte koffie ontvang. Daar was op die ou einde eintlik te min voorraad vir die nood op straat soos wat die werkers verbygekom het.

Dit wys ‘n mens dat ‘n hart van omgee ‘n groot verskil kan maak in ander se lewens – maak nie saak hoe oud jy is en op watter dag dit is nie. So het Jana op haar groot dag die lewe van ander baie lekkerder gemaak en kon vreemdelinge ook haar verjaarsdag saam met haar vier.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://potchefstroomherald.co.za/75315/negejarige-vier-verjaarsdag-saam-met-die-gewone-man-op-straat/

Related Articles

Back to top button