CommunityNewsNewsPhoto Galleries

‘My lewe is ‘n reis van dankbaarheid’

Madelaine Mocke was vir meer as 30 jaar deel van die wel en weë van die Vaal Renbaan. Sy het op 4 Desember 1989 as skoonmaaktoesighouer aangemeld vir diens. Drie maande later het die renbaan se personeel en bedrywighede aansienlik uitgebrei en is sy aangestel as sekretaresse vir Elvada van Zyl en Jeremy Smith.

“Die hele sisteem het verander. Ons het toe as die Vaal Turf Klub bekend gestaan. Die volgende 10 jaar was alles baie elegant, stylvol en formeel. Ons het uniforms gedra en selfs die afrigters het altyd gebaadjie en gedas by die renbaan opgedaag,” onthou sy.

“Op wedrendae was daar gewoonlik meer as 1 000 toeskouers. Dit was in die dae voor daar ‘n 24-uur televisiekanaal vir perdewedrenne was en mense aanlyn kon weddenskappe plaas.”

Met die draai van die eeu het Phumelela Gaming and Leisure Limited oorgeneem en het ‘n nuwe era vir perdewedrenne in Suid-Afrika aangebreek. Dit was toe dat sy haar posisie as ontvangsdame ingeneem het. Vir baie jare was “bel vir Madelaine” die standaard antwoord op vele vrae vir Turffontein en die Vaal Renbane se perde eienaars en afrigters.

Madelaine saam met die bestuurder van die Vaal Race Course, Donald Mokoena

Vir haar het die renbaan altyd dieselfde atmosfeer as ‘n vakansieoord gehad. “Is mos lekker om by jou kantoorvenster uit te kyk en te sien hoe word die perde afgesaal. Ons was drie wat vir byna 30 jaar saamgewerk het in die kantore. Dit was ek, Thandi Thola en Melanie de Caires. Ons is al soos susters,” vertel sy.

Een van die renbaan se vorige bestuurders, Michael Ndlovu, het haar al vroegdag op 30 Junie vanuit KwaZulu-Natal gebel om haar sterkte en voorspoed toe te wens vir haar laaste dag by die werk. Dit was ‘n wedrendag en Tellytrack se kommentators het ook gehoor sy tree af. Hulle het so tussen die perdewedrenne met haar ‘n onderhoud gevoer. “Daar is ek toe sommer op TV,” lag sy te lekker.

“My lewe is ‘n ongelooflike reis van dankbaarheid”, verklaar sy. In 2011 is sy met ‘n aggressiewe borskanker gediagnoseer. “Alles het so vinnig gebeur. Die dokter het my die Vrydagmiddag om 17:00 gebel en gesê hulle moet so gou as moontlik opereer. Die patoloog het bygestaan en daar is besluit op ‘n mastektomie. Ek moet nog elke jaar vir toetse gaan, maar ek is gesond.”Madelaine se lewensreis het in Eldoret, ‘n dorp in die weste van Kenia, begin. Haar grootouers aan beide kante het vanaf die destydse Kaapkolonie na Kenia verhuis. Haar pa, Wessel Germeshuizen en haar ma, Lynette Storm Germeshuizen is onderskeidelik in 1920 en in 1930 in Kenia gebore.  “My pa was ‘n boer en ‘n grootwildjagter. Eenmaal ‘n jaar het ons hele familie en nog so ses tot agt gesinnne saam op safari gegaan vir drie maande. Ons het ‘n ou Bedford lorrie gehad waarop my ma’lle altyd al die kampgoed gelaai het,” onthou sy. Sy was amper 9 jaar oud toe haar pa in 1964 besluit het om sy gesin in Suid-Afrika te kom vestig.

Madelaine (heel regs) saam met haar sussies, Cecile en Lydia. Hierdie is die laaste foto van die drie saam in Kenia voordat die gesin Suid-Afrika toe verhuis het.

“My ouma was toe getroud met oupa Bezuidenhout, dit was jare nadat my Oupa Wessel Pretorius Germeshuizen dood is aan bloedvergiftiging nadat ‘n jagluiperd hom in Kenia aangeval het. Ouma bly toe in Heidelberg en ons het vir ‘n ruk by hulle gaan bly. Jy weet, in daardie groot ou huis wat jy kry net buite die dorp op linkerkant. Dit was my ouma se huis,” beduie sy en glimlag breed toe sy onthou van die hoë plafonne met die engelprentjies en houtvloere. Eendag wil sy saam met haar kinders weer ‘n draai in Kenia gaan maak. “Ek het gehoor daar is vandag ‘n lughawe gebou waar ons plaas was. Dit was ‘n mooi plaas, met ‘n winkel en ‘n slaghuis,” dink sy ver terug. Madelaine sê sy kan nog Swahili praat en verstaan, solank iemand net stadig praat. “Ek het al tot in Swahili gedroom,” lag sy. Sy is lief vir reis en het al ‘n slag vir haar oudste dogter, Marlize Smit en haar gesin in Sydney, Australië gaan kuier. Haar dogter, Izanne Mocke woon in Londen en haar seun, Gideon werk op ‘n plaas in Denver, Colorado. “My jongste, Anneli, is nog hier nadat haar planne om op seiljagte te gaan werk deur die grendelstaat gestuit is.”

Noudat sy afgetree het, gaan sy nie stilsit nie. Sy doen graag naaldwerk en het reeds heelwat maskers gemaak. Dan is daar nog 30 jaar se onthou wat in bokse rondstaan en uitgepak moet word. “’n Mens kan baie opgaar in 30 jaar. Ek moes drie keer ry om al my goed van die renbaan af huis toe te bring.” Intussen het haar kollegas laat weet, hulle mis haar al klaar…

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike artikel:

‘My lewe is ‘n reis van dankbaarheid’

Related Articles

Back to top button