NewsNews

Vaalrivier-besoedeling: Adjunkminister gevra om in te gryp

Benewens die ekonomiese impak wat deurlopende rotasie beurtkrag op die plaaslike ekonomie van Parys het, word sommige noodsaaklike dienste soos rioolpompe en die watervoorsiening- en rioolbehandelingsaanlegte óók nou noodwendig van elektrisiteitstoevoer afgesny. Dit beteken dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) gevolglik weens Eskom se weiering om substasiekapasiteit te vergroot, hom…

Benewens die ekonomiese impak wat deurlopende rotasie beurtkrag op die plaaslike ekonomie van Parys het, word sommige noodsaaklike dienste soos rioolpompe en die watervoorsiening- en rioolbehandelingsaanlegte óók nou noodwendig van elektrisiteitstoevoer afgesny.
Dit beteken dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) gevolglik weens Eskom se weiering om substasiekapasiteit te vergroot, hom skuldig maak aan besoedeling van die Vaalrivier met die toepassing van verpligte beurtkrag, sê Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe.

Van der Merwe het verlede week in ‘n skrywe gesê dat rioolvuil, wat ook bloed uit die plaaslike abattoirs bevat, direk in die Vaalrivier vloei weens rioolpompe wat weens beurtkrag nie kan werk nie. Hy sê omdat die Vaalrivier ‘n noodsaaklike waterbron vir duisende Suid-Afrikaners is, hou dit groot gesondheidsrisiko’s vir inwoners en die omgewing in.

Rotasie beurtkrag is in Junie geïmplementeer omdat die huidige elektrisiteitsverbruik van die munisipaliteit die kapasiteit wat die Eskom-substasie tans kan lewer, oorskry.

Van der Merwe sê die enigste blywende oplossing hiervoor is om die kapasiteit van die substasie te vergroot. Eskom is egter nie geneë daartoe nie, tensy die munisipaliteit sy totale uitstaande rekening vereffen, hoewel die munisipliteit sy betalingsooreenkoms met Eskom nakom.
Eskom vereis onverbiddelik dat die totale uitstaande bedrag ten volle betaal word voordat daar enigsins onderhandel kan word oor die kapasiteitverhoging by sy substasie. Die houding verplig die munisipaliteit om beurtkrag toe te pas ten einde te verhinder dat Eskom se substasie oorlaai word en, soos wat ‘n tyd gelede gebeur het, weer ontplof. Die Vryheisfront Plus het nou ‘n skrywe aan adjunkpresident David Mabuza gerig om dringend in te gryp om besoedeling van die Vaalrivier stop te sit, omdat dit veral in die lig van die Covid-19 pandemie, onaanvaarbaar is.

Die foto is in Junie by die Sandgat in Rotarylaan in Parys geneem deur Selma Kok van die Vaal Action Group

“Die regering skuld homself nie net geld nie, maar laat toe dat die omgewing en die ekonomie daaronder ly,” sê rdl. Van der Merwe.
* ’n Vergadering van die Ngwathe Taakspan met Eskom sou eers vandeesweek gehou kon word nadat senior Eskom-bestuur nie verlede Donderdag beskikbaar was vir die vergadering nie. Die Ngwathe Eskom taakspan is in Januarie vanjaar deur die burgemeester aangestel en sou hierdie die eerste vergadering van die span wees.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://parysgazette.co.za/40089/vaalrivier-besoedeling-adjunkminister-gevra-om-in-te-gryp/

 

Related Articles

Back to top button