CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Hoe gemaak met die hare?

Om jou haarkapper te besoek is verbode en dit lyk nie asof daardie reëling gou gaan verander nie.

Om self met die skêr jou hare by te dam word onder geen omstandighede aanbeveel nie. Met die winter op hande kan die hare wat nou so om ore begin krul dalk net wees wat nodig is om ekstra hitte te verskaf. Hoeka druk die gesigskerm se rek my hare elke keer in ‘n nuwe interessante styl as ek ‘n draai in die lewe daarbuite moet maak…

Christell Maritz, eienaar van Salon Lady Monroes in Vanderbijlpark

Die Herald se susterskoerant, Vaalweekblad, het by Christell Maritz van Salon Lady Monroes van Vanderbijlpark ‘n paar wenke gekry oor wat tuis gedoen kan word om die kapsels darem soortvan in goeie kondisie te hou. Met die winter op hande is dit belangrik om jou hare teen uitdroging te beskerm. Sy stel voor dat jy gereeld klapperolie (coconut oil) aansmeer, ‘n kappie opsit en dit dan vir die nag ophou. Dit bevogtig hare.

Moenie elke dag jou hare was nie, dit verminder die natuurlike olies op jou kopvel en hare. Wanneer jy wel hare was, gebruik ook ‘n opknapper na elke was. Jy kan ook opknapper (conditioner) opsit en so gaan slaap, dit sal ekstra bevogtiging aan hare verskaf. Vir die brawes in die winter, sê Christel dis verkieslik om jou hare met koue na lou water te was en deeglik af te spoel met koel water.

Lees ook: Plaaslike haarkapper by huis betrap en beboet

Kam hare met ‘n bree kam uit voor jy gaan slaap en as dit lank genoeg is, vleg dit, want dit kan koeke verminder. (Duidelik het ons oumagrootjies se oumas met hul slaapkappies en vlegsels iets geweet wat ons al vergeet het…)

Christel beveel aan dat jy eerder ‘n haarknip met tande gebruik om jou hare vas te maak, as ‘n plastiese rekkie, want die rekkies breek hare. Sy raai mense af om hul hare by die huis te probeer bleach, die kanse is goed dat dit dalk oranje of geel sal uitkom en om die hare daarna weer die regte kleur en kondisie te kry, kan in ‘n duur en lang speletjie ontaard.

Onthou, moenie self probeer sny nie. Byt liewer vas totdat die inperkings verby is en jy jou bolla by die salon kan losskud. Jy en jou haarstilis sal dankbaar vir jou geduld wees.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Hoe gemaak met die hare?

Related Articles

Back to top button