NewsNews

Haarkapper by huis betrap en beboet

Danksy Covid-19 is die hele land se ekonomie daarmee heen, maar daar is baie mense wat nou in uiterste nood verkeer om kop bo water te hou. Dit is meestal besighede wat voorheen ‘n hand na die mond bestaan gevoer het en sluit in baie gevalle die skoonheidsbedryf in. Baie haarkappers en naeltegnikuste het van hul huise gewerk om kos op die tafel vir hul gesinne te sit. Dit is dus kommerwekkend dat daar na raming sowat 900 000 geregistreerde en sowat 120 000 ongeregistreerde haarkappers/skoonheidsalonne en hul personeel is wat tans nie ‘n inkomste het nie.

Ook in die Vaal raak die salon eienaars bekommerd en wil hulle graag weer hul deure vir kliënte oopmaak. Baie is van mening dat indien daar nie gou ‘n plan gemaak word nie, hulle heel waarskynlik permanent hul deure sal moet sluit.

Op hierdie stadium is daar selfs salon eienaars wat bereid is om die wet te verontagsaam om ‘n inkomste te kan verdien en kos op hulle eie, en hul werknemers se tafels te kan sit. Hulle raak desperaat! So desperaat dat ‘n paar al wel die kans gevat het … en die prys moes betaal.

Dan is daar dalk ander wat so ‘n jare lange band met kliënte het dat hulle agteroor sal buig om aan kliënte se behoeftes te voorsien. Op sosiale media is dit duidelik dat almal reeds ‘n behoefte het om ‘n besoek aan hul haarkapper of skoonheidstegnikus af te lê.

‘n Baie bekende en gewilde manlike haarkapper van die dorp is glo by sy huis betrap na hy ‘n kliënt weer mooi gemaak het en moes ‘n boete van R5 000 betaal. Sy identiteit is aan die Herald se susterskoerant, Vaalweekblad, bekend maar word weerhou. Die boetebedrag kon nie bevestig word nie. Sy kliënt (‘n vooraanstaande inwoner van die dorp) moes ook glo ‘n boete van R1 500 betaal.

In nog ‘n voorval het ‘n inwoner by haar buurvrou (wat ‘n haarkapper is) gaan hare sny. Albei is ook glo beboet en die haarkapper se toerusting is glo gekonfiskeer.

Nog ‘n bekende en jarelange haarkapper van die dorp, Gerda McDonald van Merlês Boutique, meen daar kon net strenger reëls in plek gesit word sodat salonne hul deure kon oopmaak. “Almal weet dat nuwe veiligheidmaatreëls nodig sal wees. Daar kan bv. minder mense op een slag in ‘n salon toegelaat word; ‘n haarkapper moet heeltemal met een kliënt klaar wees voordat ‘n nuwe een kan inkom; koors kan by die deur geneem word; veiligheidskerms en maskers sal ‘n verseiste wees vir haarkapper en kliënt; ontsmettingsmiddels ens. Ons is bereid om aan te pas,” sê sy. Volgens haar sal die haarindustrie waarskynlik in elk geval nooit weer dieselfde wees as voor die pandemie nie.

Die feit dat hulle wel toegelaat word om tans produkte aan kliënte te verkoop help ook nie. “Kliënte het juis hulp nodig om die produkte te gebruik om te beste resultaat te kry,” sê sy. Gerda is gelukkig nie ‘n mens wat sommer gaan lê nie. Sy verkoop tans maskers, “shields”, avokadopere en doen naaldwerk om ‘n inkomste te genereer.

In kort, baie besigheide waarvan die skoonheidsbedryf een is, sal nie kan voortbestaan totdat Vlak 1 uiteindelik bereik word nie. Kom ons hou duim vas dat daar weer na die reëls en regulasies gekyk sal word, veral as daar in gedagte gehou word dat haarkappers die meeste van die tyd agter hul kliënte staan.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Plaaslike haarkapper by huis betrap en beboet

 

 

Related Articles

Back to top button