NewsNews

Sprankelende Chantelle wil haar ‘2de kans’ goed benut

Kyk jy vandag na die sprankelende Chantelle van den Berg, een van Vaalweekblad, die Herald se susterskoerant, se Top Vier in die 2019 Matriekafskeidwedstryd, is daar min opsigtelike tekens van die pyn en ongerief wat sy die afgelope jaar deurgemaak het.

Chantelle se linkervoet is in die brugtragedie op vier plekke gebreek. Die vergruising was so sleg dat sy dadelik geopereer moes word sodat plate ingesit kon word om haar voet te red. Buiten vir ‘n rugbesering, was vier van haar ribbes ook gekraak en een gebreek.
“Mamma, ek het ‘n tweede kans gekry en ek gaan dit goed gebruik,” was haar woorde kort na die tragedie aan haar ma, mev. Chrisna van den
Berg. Chantelle doen dié onderneming beslis gestand.
Sy probeer voluit leef, al stap sy soms nog met ‘n opsigtelike hink wanneer sy moeg word of as die pyn te veel raak. Haar rug is ook nog nie reg nie en veroorsaak soms ook kwaai pyn. Omdat dit moeilik was om met haar “moonboot” op Driehoek se skoolterrein rond te beweeg gedurende die maande wat die leerlinge in tente op die sportveld moes skoolgaan, is Chantelle in April verlede jaar by Shalom Akademie in Vanderbijlpark ingeskryf, waar sy haar matriek met universiteitstoelating geslaag het. Weens ‘n tekort aan fondse was sy in April verlede jaar laas by ‘n dokter, maar sy pas haarself mooi op, sê haar ma.

Chantelle van den Berg by haar matriekafskeid.

“Daar was verlede jaar soms af dae wanneer die trane vlak gelê het, maar ons het maar daarmee gewerk soos dit gekom het. Haar beste medisyne daarvoor was om by die skool te wees, want hulle het haar nie tyd gegee om ‘af’ te wees nie. Daar was altyd iemand wat haar dag lekker gemaak het.”
Chantelle begin vanjaar haar graadstudies in Pastorale Sielkunde aan die Noordwes-Universiteit en wil haar daarna as onderwyseres bekwaam.
“Ek wil vandag, 1 Februarie, na die nuwe beeld by Hoërskool Driehoek gaan kyk, en dan wil ek hierdie hoofstuk van my lewe afsluit,” het sy
Saterdag aan Vaalweekblad gesê.
* Net soos in Chantelle se geval, het die brugtragedie ‘n groot rol gespeel in die studiekeuse van Hoërskool Driehoek se toppresteerders. Haniah Bahnsen (8 A’s) wil ‘n mediese dokter word sodat sy mense in noodsituasies kan help, en so ook Carla Pretorius (6 A’s). Suené Wucherpfennig (7 A’s) wil ‘n Pastorale Sielkundige word om mense in krisissituasies te begelei. Weronique Kichenbrand (6 A’s) is beslis nie afgeskrik deur skoolgeboue nie: Sy beplan om ‘n seniorfase onderwyseres te word. Slegs een van Driehoek se matrikulante wat in die brugramp beseer is, het nie sy matriek geslaag nie, maar die skool staan hom by met handboeke om van sy vakke te herskryf.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Sprankelende Chantelle wil haar ‘2de kans’ goed benut

 

Related Articles

Back to top button