NewsNewsSportSport

Rams nou Merafong se enigste rugbyklub

Die Rams Rugby Akadamie van Fochville is nou die enigste rugbyklub wat in die omgewing oor is.

Probleme met die omgewing se klubs het einde verlede jaar begin toe die Leeus Rugby-Unie, by wie beide die Rams en Carletonville Rugbyklub (CRC) geaffilieer was, besluit het dat alle klubs vanjaar drie spanne vir die liga moet inskryf.
Aangesien nie een van die twee klubs in Merafong groot genoeg was om dit te doen nie, was daar volgens Charles van der Westhuizen van die Rams, sprake dat CRC by Fochville ingelyf sou word.
Die plan was dat CRC as Rams se tweede span op die veld sou draf. Dít het egter nie gebeur nie en CRC is ontbind.
Volgens Van der Westhuizen gaan die Rams egter volstoom aan.
“Ons speel in die Leeus Senior Grand Challenge liga. Die Leeus het vir ons ‘n span van Libanon gegee as ons derde span. Ons is tans in gesprek met Wedela se rugbyklub om as ons tweede span te speel, andersins gaan ons maar uit ons dorpie en Carletonville ‘n span bymekaarmaak.
“Die Senior Grand Challenge-liga werk vanjaar anders en gaan nogal rof wees, want daar het ‘n paar spanne van die Pirates-liga afgeskuif. Ons speel nou teen Alberton, Johannesburg Polisie, Diggers, Randfontein, Harlequins, ‘n gekombineerde span van Soweto Eagles en Southern Nights en Union. Dis ‘n baie lekker tawwe liga en enige iemand is welkom om vir ons te kom speel. Enige borge is ook welkom.
“Ons werk nog hard om die stadion se ligte te probeer herstel sodat ons dit weer lekker ons tuiste kan maak vir die seisoen.
“Ons het verlede jaar as kampioene uitgetree, so ons is almal baie opgewonde oor die nuwe jaar,” sê Van der Westhuizen.
Die Rams het Dinsdagaand reeds van 18:00 tot 19:20 by die Gert van Rensburg-stadion begin oefen.
Die liga begin reeds op 6 April.
Enige iemand wat meer inligting wil hê, kan Van der Westhuizen by 060 745 7980 skakel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button