NewsNews

Geliefde predikant van Carletonville ter ruste gelê

‘n Geliefde predikant van Carletonville, ds. Wim Muller, is die afgelope week ter ruste gelê in die NG Kerk Oberholzer-Wes, waar hy vir meer as ‘n dekade as leraar gewerk het.

Volgens sy dogter, mev. Erise Havenga, het haar pa Donderdagaand, 18 Julie, ‘n massiewe beroerte gehad en is hy Sondagaand, 21 Julie om 20:18 oorlede. Hy is Vrydag, 26 Julie om 14:00 begrawe.
Hy het sy loopbaan as predikant in 1981 by die NG Moedergemeente in Carletonville begin. Hy is in 1984 na die NG Alberton-Noord gemeente beroep, waar hy meer as 20 jaar as leraar sou werk. Ds. Wim, soos baie mense hom geken het, het in 2007 as leraar by NG Oberholzer-Wes begin werk.
Hy word oorleef deur sy vrou Lenie, met wie hy 44 jaar getroud was, sowel as twee dogters, Corne en Erise, ‘n skoonseun André en twee kleinseuns, Regardt-Wikus en Jasper Willem.
Volgens sy dogter was ds. Wim op hoërskool ‘n kranige trompetspeler en het hy in die kadet-orkes asook die Springs se Simfonie-orkes gespeel. Hy was baie begaafd met die dat hy alle koper-blaasinstrumente kon bespeel.
“Hy het ‘n groot liefde gehad vir diere en veral honde en katte was baie lief vir hom. Sy dogters het altyd geglo hulle kan maar nog diere huis toe bring, want hul pa sou nie omgee nie. Die diere was in elk geval baie liewer vir hom as vir sy dogters,” sê sy.
Hy was ook ‘n groot versamelaar van outydse modelkarretjies, maar sy stokperdjie was veral om te lees, en op dié wyse sy kennis oor die Bybel te verbreed.
“Hy was verder ‘n kranige redenaars-toespraak-skrywer en het dit geniet om ook as beoordelaar by redenaarsgeleenthede op te tree.
“Hy het absoluut geleef vir sy roeping as leraar en kind van die Here. Hy was geliefd onder menigte en sy liefde vir mense het deur sy lewe gestraal,” sê sy dogter.
Verskeie gemeentelede het ook huldeblyke geskryf waarin hulle dit wat ds. Wim vir hulle beteken het, uiteensit.

Related Articles

Back to top button