NewsNews

Sanger Sean Miles se ma sterf in botsing – Pa van vyf in selfde ongeluk gedood

“My ma was ‘n ongelooflike rolmodel wat ander se belange altyd voor haar eie gestel het” – Sean Miles

“Ons gesin verwerk my ma se dood baie moeilik. Woorde kan nie beskryf hoe seer dit is nie.”

Só sê die sanger Sean Miles nadat sy ma, mev. Marketa Mikulova Geldenhuys (52), op Woensdag (17 Julie) in ‘n botsing op die R82 in Vereeniging, rigting De Deur, gesterf het. Marketa was op pad na Waldrift om kos vir haar en haar man te gaan haal toe die botsing tussen haar motor en ‘n motorfiets plaasgevind het.

Paramedici was gou op die toneel en het die motorfietsryer ‘n ent van sy motorfiets af op die grond aangetref. Die man het ongelukkig reeds gesterf en is op die toneel dood verklaar. Paramedici het intussen ook lewensondersteunende behandeling op die kritiek-beseerde Marketa toegepas.

Haar toestand het egter vinnig verswak en sy het ook kort daarna op die toneel gesterf.

Marketa het sowat 49 jaar gelede as kleuter saam met haar ouers uit Tjeggo-Slowakye na Suid-Afrika geïmmigreer om die kommunistiese bewind in daardie land te ontvlug. In haar volwasse jare het sy as mediese laboratorium-assistent in die patologie-afdeling van die Baragwanath-hospitaal gewerk. Die gesin het in 2002 na die Vaaldriehoek verhuis. Ten tyde van haar dood was Marketa saam met haar man, Lukas Geldenhuys, mede-eienaar van die karwassery by Tuscany, sowel as van Happy Chappy Karwas in Sonlandpark.

“My ma was ‘n ongelooflike rolmodel wat ander se belange altyd voor haar eie gestel het. Hoewel sy ‘n baie vasberade vrou was wat nie toegelaat het dat iemand oor haar loop nie, het sy ook ‘n aansteeklike lag gehad.

“Sy het altyd probeer seker maak dat almal om haar gelukkig is,” sê Sean. Dié sanger, wat ook ‘n Engels-onderwyser aan Greenacres Private College in Meyerton is, is veral bekend vir sy treffers Alleen in die Reën, Twenty-five en Forever. Hy sê hy was bevoorreg om sy ma as een van sy grootste bewonderaars te kon hê.

“Sy het gereeld my shows bygewoon maar as sy nie kon nie het sy altyd ‘n WhatsApp-boodskap gestuur om my sterkte toe te wens. Sy het altyd gesê haar kinders was die beste ding wat sy nog ooit met haar lewe gedoen het. Ek sal haar vir altyd liefhê,” sê Sean. Marketa word buiten Sean ook oorleef deur haar man Lukas, en haar dogter Lee-Ann Geldenhuys.

’n Troosdiens is verlede Vrydagoggend by die Rooms-Katolieke Kerk in Vereeniging (Krugerstraat) gehou.

* Die naam van die middeljarige motorfietsryer wat ook in die botsing gesterf het, is nog nie amptelik deur die polisie bekend gemaak nie. Vaalweekblad verneem dat hy ‘n bekende in die Indiërgemeenskap was. Hy word deur sy vriende en kollegas op Facebook as ‘n besonder aangename mens beskryf, wat baie gemis gaan word. Hy word oorleef deur sy vrou en vyf kinders. Sy familie het nog nie op Vaalweekblad se navrae vir meer inligting geantwoord nie.

Related Articles

Back to top button